Draai-trio strak teen Windies?
2011-02-22 07:05
In-diepte Verslae
Die krieketbaas Gerald Majola het ontken dat hy toestemming verleen het aan Graeme Smith om nie direk ná die Wêreldbeker terug te keer na SA nie.
Graeme Smith en Jacques Kallis is van die gedugste opponente teen wie hy ooit te staan gekom het, skryf die Australiër Matthew Hayden in sy lewensboek.
Delhi – Die Suid-Afrikaanse krieketkamp het soveel vertroue in sy draaiboulers in die Wêreldbeker-toernooi dat Johan Botha, Robin Peterson én Imran Tahir teen die Wes-Indiese Eilande ingespan kan word.
Die Proteas pak dié eilandmanne oormôre in hul eerste groepwedstryd van die toernooi en volgens Botha kan sy span se hoogaangeskrewe snelaanval vir eens tweede viool speel.
“Dis baie opwindend dat ons vir die eerste keer werklik in die posisie is om drie draaiers in dieselfde span te kies,” het Botha gesê. “Dit het egter nie sommer oornag gebeur nie en ek, Robin en Imran het baie hard gewerk om hier te kom,” Botha-hulle het gister vir die eerste keer in die Indiese hoofstad geslyp ná sowat ’n week in Bangalore.
Hoewel swaar oornagreën hul oefening lank vertraag het, het die toerspan steeds byna vier uur lank by die militêre lugmagbasis geslyp.
“Na ’n blaaskans van twee weke was dit nodig om ordentlik voor te berei vir ons eerste wedstryd,” het Botha gesê. “Die kolfblad hier gaan waarskynlik heelwat minder wip hê as in Bangalore, maar dan rus daar ’n veel groter verantwoordelikheid op die skouers van ons draaiers omdat die bal heelwat meer behoort te draai.
“Ons gaan hier meer aanvallend ingespan word en moet paaltjies plattrek, terwyl ons in Suid-Afrika eerder probeer om die lopies te beperk.”
Dít kan straks beteken dat een van Dale Steyn, Morné Morkel en Lonwabo Tsotsobe die aksie in die Feroz Shah Kotla-stadion van die kant af moet dophou.
“Ons al drie boul uitstekend in die kragspel-beurte (power plays) en omdat ons ons boulbeurte baie vinnig afstuur, is 10 of 15 boulbeurte verby voordat die kolwers hul oë kan uitvee. “Hoeveel draaiers ons kies, sal egter afhang van die toestande, die kolfblad en ons teenstanders, maar dis fantasties om daardie keuse te hê.”
Die Proteas se onlangse sukses in die tuis-kitsreeks teen Indië het dié draaier-drietal se selfvertroue ’n verdere hupstoot gegee, sê Botha.
Die feit dat die Suid-Afrikaners vanjaar nie as een van die gunstelinge beskou word nie, pas ook so reg in hul kraal. “In 2003 én 2007 was ons die gunstelinge en dit het die ouens onder geweldige druk geplaas, maar dié keer is al die aandag op Indië, Sri Lanka en Australië gevestig.”
Volgens hom het die Proteas reeds hul planne agtermekaar vir die kragmeting met die Windies, ’n span teen wie hulle reeds twee keer in dié toernooi (in 1996 en in 2003) vasgeval het.
“Ons is deeglik bewus daarvan dat hulle ’n handvol spelers het wat ’n wedstryd man-alleen kan wen, maar ons sal reg wees vir hulle,” het Botha gesê.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg