Zim se Kevin Curran sterf
2012-10-10 11:55
Fotogalery - Corrie Sanders sterf
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Kaapstad – Kevin Curran, voormalige Zimbabwiese kolwer en nasionale afrigter, het Woensdagoggend op die ouderdom van 53 in Mutare gesterf.
Volgens die Cricinfo-webtuiste het die Zimbabwiese krieketvereniging in 'n verklaring gesê dat Curran gedraf het toe hy skielik inmekaargesak het.
Die presiese oorsaak van sy dood moet nog vasgestel word.
Curran was die afrigter van die plaaslike span die Mash Eagles en was in Mutare besig om vir t20-wedstryde teen die Mountaineers voor te berei.
Die wedstryde, wat Woensdag en Donderdag sou plaasvind, is uitgestel.
"Ons is steeds geskok. Kevin was 'n sprekende voorbeeld van gesondheid en ons probeer nog om sin te maak van die tragiese verlies," het Zimbabwe Krieket se besturende direkteur, Wilfred Mukondiwa, gesê.
Die 53-jarige het sy internasionale debuut by die 1983 Wêreldbeker gemaak toe Zimbabwe vir Australië met 13 lopies op Trent Bridge geklop het.
Tydens 'n loopbaan van vier jaar, wat twee Wêreldtoernooie ingesluit het, het hy 287 lopies in 11 wedstryde aangeteken.
As naatbouler het Curran ook nege paaltjies platgetrek.
Hy was Zimbabwe se hulpafrigter voor hy aangestel is as breier van Namibië.
In Augustus 2005 het hy Phil Simmons as Zimbabwe se nasionale afrigter vervang en die pos tot 2007 beklee.
Hy het ook die land se o.19-span tydens die Wêreldbeker in 2010 afgerig.
Volg Nuus24 op Twitter.
– Sport24