Wraak vir WB-trane
2012-02-12 09:14
Johannesburg – Een van die donkerste dae in Suid-Afrikaanse krieket sal as aansporing dien wanneer die Proteas en Nieu-Seeland vandeesweek in die eerste van drie Twintig20-wedstryde swaarde kruis.
Want nadat die Swartpette in Maart verlede jaar die Wêreldbeker-opmars van AB de Villiers en sy spanmaats in die kwarteindronde tot stilstand geruk het, is vergelding vierkant in dié jong kaptein se gedagtes.
De Villiers-hulle het dié dag hul laaste agt paaltjies vir net 64 lopies verloor, nadat die Nieu-Seelanders vroeër ’n beskeie wenteiken van 222 gestel het.
“Ja, dit was ’n baie hartseer dag en om só uitgeskakel te word, was moeilik om te aanvaar,” het De Villiers dié week gesê, kort voor die span se vertrek vir drie blits-, drie kits- en drie toetswedstryde teen die Kiwi’s.
“As ons egter eerlik is met onsself, moet ons erken dat ons net nie goed genoeg was nie.”
De Villiers, wat die leisels van die Twintig20- en eendagspanne kort ná dié toernooi by Graeme Smith oorgeneem het, was versigtig om die besoekers se wraakplanne te verklap – maar het erken dat dit elf láng maande se wag was op ’n kans om die bordjies te verhang.
“Ons het nie enige ekstra motivering nodig om goed te vaar teen Nieu-Seeland nie, maar dié is ’n jong, opwindende span wat homself opnuut moet bewys en ek weet elkeen van die ouens is oorgehaal om dit te doen,” het hy gesê.
“Die Kiwi’s was indrukwekkend die afgelope ruk, maar ons het reeds begin om beeldmateriaal van hul onlangse wedstryde te ontleed.”
Dié span het laat verlede jaar geskiedenis gemaak deur die louere te deel in ’n toetsreeks in Australië en het die afgelope paar weke maklik klaargespeel met ’n Zimbabwiese span vol belofte ná sy toets-ballingskap.
“Ek moet bieg dat ek na ’n paar van Nieu-Seeland se onlangse wedstryde op televisie gekyk het en heelparty van hul spelers se name glad nie kon herken nie,” het De Villiers gesê.
“Hulle is ’n uitgeslape span, wat op hul voete kan dink en daarom sal ons wedstrydplanne netjies agtermekaar moet wees.
“Hulle maak gewoonlik staat op hul stadiger boulers om die vaart van die bal te haal en net reguit te boul, maar dié keer sal dit dwaas wees – juis omdat hul snelboulers vanjaar so goed gevaar het.”
Hy is opgewonde oor sy eerste kapteinskaptoets in die vreemde, ná gemengde welslae as leier in die afgelope tuisreeks teen Sri Lanka, sê De Villiers.
Die Suid-Afrikaners het met 3-2 geseëvier, nadat die besoekers die laaste twee kragmetings teen alle verwagtinge in beklink het.
“Ek het ’n paar duur lesse geleer teen Sri Lanka,” het De Villiers gesê.
“Ek wou so aanvallend as moontlik wees en hoewel dit nie altyd gewerk het nie, glo ek steeds dis die regte benadering om te volg.
“Die res van die span het almal daarby ingekoop. Dis fantasties om te weet die ouens glo in jou.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24