Wedstrydoefening vir Tahir
2012-06-26 21:14
Kaapstad – Imran Tahir sal waardevolle wedstrydoefening voor die Proteas se toetsreeks teen Engeland kry wanneer hy vir Suid-Afrika “A” sal speel in hul reeks van twee ‘toetse’ teen Sri Lanka “A”.
Vincent Barnes, afrigter van Suid-Afrika “A”, het Dinsdag ‘n groep van 15 spelers aangekondig vir die twee wedstryde onder die kapteinskap van Faf du Plessis.
Daar sal baie belangstelling wees in die spelpeil van beide Tahir en die nuweling-wegbreekbouler Simon Harmer, wat die voorste paaltjievraat was in die onlangse Supersport-reeks.
Daar is verskeie spelers in die groep wat reeds vir die Proteas gespeel het, soos Du Plessis, die paaltjiewagter Thami Tsolekile, Farhaan Behardien, Tahir, Justin Ontong, Wayne Parnell, Ryan McLaren en Rory Kleinveldt.
Die reeks bied ook geleenthede vir verskeie jong kolwers. Dit sluit Dean Elgar, Reeza Hendricks, Rilee Rossouw en Temba Bavuma in.
Die groep is:
Faf du Plessis (Titans, kaptein), Temba Bavuma (Highveld Lions), Farhaan Behardien (Titans), Dean Elgar (Knights), Simon Harmer (Warriors), Reeza Hendricks (Knights), Imran Tahir (Highveld Lions), Rory Kleinveldt (Cape Cobras), Pumelela Matshikwe (Highveld Lions), Ryan McLaren (Knights), Justin Ontong (Cape Cobras), Wayne Parnell (Warriors), Rilee Rossouw (Knights), Thami Tsolekile (Highveld Lions), Stiaan van Zyl (Cape Cobras).
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA