Wedstrydknoeiers gevonnis
2011-11-03 14:30
London – Die voormalige Pakistanse krieketkaptein Salman Butt en sy spanmaat Mohammad Asif is Donderdag onderskeidelik tot 30 maande en een jaar tronkstraf weens wedstrydknoeiery gevonnis.
Butt en Asif is Dinsdag in 'n Londense hof skuldig bevind op aanklagte van sameswering om in 'n wedstryd te knoei en die ontvang van omkoopgeld
Mohammad Amir, wat skuld beken het voor sy spanmaats se verhoor begin het, is tot ses maande tronkstraf gevonnis.
Die Britse poniekoerant News of the World het verlede jaar bandopnames beskikbaar gestel waarop die spelers se agent, Mazhar Majeed, spog dat hy hulle omgekoop het om opsetlik foutballe af te stuur tydens die vierde toets tussen Pakistan en Engeland op Lord’s in Augustus.
Pakistan het dié wedstryd met ’n beurt en 225 lopies verloor – een van sy grootste toetsnederlae in die geskiedenis.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24