Warne jammer oor uitbarsting
2013-01-07 13:54
Sydney – Die Austaliese krieketlegende Shane Warne het Maandag erken dat hy verkeerd opgetree het toe hy tydens die Big Bash T20-toernooi 'n uitval met die Windies-speler Marlon Samuels gehad het.
Warne is in die nadraai van die voorval vir een wedstryd geskors en met A$4 500 (sowat R40 000) beboet.
Warne, kaptein van die Melbourne Stars, wat Sondagaand teen die Melbourne Renegades te staan gekom het, was tydens die wedstryd woedend omdat Samuels Warne se spanmaat, David Hussey, teruggetrek het toe Hussey ‘n lopie wou hardloop.
Toe Samuels later in die wedstryd kolf, het Warne na hom geloop en gesê, “F** jou, Marlon.”
In die volgende boulbeurt het Warne die bal gekeer en dit in Samuels se bors vasgegooi. Samuels het reageer deur sy kolf na die Australiër te gooi, maar dit het hom nie getref nie.
Die twee spelers moes deur die skeidsregters uitmekaar gehou word.
Krieket Australië het Maandag beide spelers daarvan aangekla dat hulle die gedragskode verskeie kere oortree het.
Warne het ná die westryd erken dat hy te ver gegaan het tydens die onderonsie.
“Dankie vir die ondersteuning. Sport kan soms baie passievol raak. Ek het te ver gegaan in my poging om vir my span op te staan,” het Warne op Twitter gesê.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP