Warne groet ná aanslag van Rajasthan Royals
2011-05-07 10:06
Nieu-Delhi. – Shane Warne sal sy laaste bybreker afstuur wanneer die Indiese Premierliga (IPL) later vandeesmaand vir die Rajasthan Royals eindig.
Dié ikoniese Australiese draaier het Vrydag op Twitter bevestig hy gaan na dié skatryk twintig20-kriekettoernooi uittree.
“Dié is my laaste IPL. Baie dankie aan almal wat my gehelp en ondersteun het deur al die hoogte- en laagtepunte. Ek hoop julle het dit geniet om my te sien speel,” het Warne op dié sosiale netwerk geskryf.
Dié 41-jarige bouler het 708 toets- en 293 eendagpaaltjies platgetrek en word allerweë as die beste draaier nóg beskou.
Die Royals is vierde op die IPL-puntelys en speel hul laaste groepwedstryd op 20 Mei – teen die Mumbai Indians.
* Die Engelse kolwer Kevin Pietersen het sy spanmaats Alastair Cook en Stuart Broad gelukgewens met die kapteinskap van onderskeidelik die kits- en twintig20-span. Hulle is Donderdag bo Pietersen verkies.
“Geluk aan Cookie en Broady. Dis ’n nuwe era vir Engeland en (hulle is) jong kapteins vir die toekoms,” het hy getwiet.
– Sportredaksie