WB-krieketkolf vir R1 milj. opgeveil
2011-07-19 12:19
Nieu-Delhi – Die krieketkolf waarmee Indië se kaptein, Mahendra Singh Dhoni, die wenlopies in die Wêreldbeker-eindstryd teen Sri Lanka aangeteken het, het $160 000 (sowat R1 miljoen) op 'n veiling behaal.
Die veiling is Maandag in Londen gehou vir Dhoni se liefdadigheidsorganisasie wat verlede jaar in Indië op die been gebring is," het die Press Trust of India-nuusagentskap Dinsdag gesê.
Dhoni het die wenlopies teen Sri Lanka in April vanjaar in Moembaai aangeteken toe hy 'n naatbal van Nuwan Kulasekara vir 'n ses gemoker het.
Indië het eindelik met ses paaltjies gewen.
Die Indiese kaptein sê sy liefdadigheidsorganisasie wil poog "om krieket meer toeganklik te maak vir kinders, deur 'n sportakademie te bou."
Dhoni lei tans sy span in 'n toetsreeks teen Engeland wat Donderdag by Lord's begin.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA