Vyf paaltjies en dan...
2010-02-16 10:27
Altus Momberg
Kolkata - Suid-Afrika soek vanoggend blitsvinnig vyf paaltjies.
Slaag die Proteas daarin, is ’n reekssege oor die krieketspan van Indië steeds binne hul bereik.
Teen die teepouse gister hier op Eden Gardens wou dit egter voorkom of dit fluit-fluit, storie uit vir die besoekers is ná meesterlike kolfvertonings deur Virender Sehwag (165) en Sachin Tendulkar (106).
Hulle het die Proteas se voorsprong in ’n japtrap uitgewis en was goed op pad om op die tweede dag reeds die laaste paar spykers in Suid-Afrika se doodskis te timmer.
Drie paaltjies in die laaste ses boulbeurte, wat Sehwag en Tendulkar s’n ingesluit het, het die skaal darem weer so effe in die guns van die Suid-Afrikaners geswaai.
Corrie van Zyl, die Proteas se instaan-afrigter, glo ook die uitslag in die tweede toets is geensins al ’n voldonge feit nie.
“Daai drie paaltjies aan die einde van die dag – en twee van hulle was reuse-paaltjies – het die grondslag gelê vir ’n groot dag môre. Dit was nietemin ’n moeilike dag waarop Indië briljant gekolf het en ons boulwerk nie altyd op peil was nie,” sê Van Zyl.
Indië het 342/5 met die uitskeityd bereik, ’n voorsprong van 46 lopies. Die Proteas is in die eerste sessie vir 296 uitgeboul.
As die Proteas vanoggend kan toeslaan en Indië vir die toevoeging van net 50 of 60 lopies kan uitboul, het hulle nog ’n realistiese kans op ’n reeksoorwinning.
Die bal het teen die einde van dag begin swaai vir Dale Steyn en Suid-Afrika kan ná vier boulbeurte vanoggend die nuwe bal aanvra. Toestande behoort ook die snelboulers te bevoordeel. Bewolkte toestande met buie word voorspel.
Op die tweede dag was dit egter eenrigting-verkeer, met die Suid-Afrikaanse boulers wat dit ontgeld het. Die Proteas kon geen druk op die Indiese kolwers laai nie en gevolglik het die lopies teen ’n haastige tempo gevloei.
Sake is verder bemoeilik deur die Engelse skeidsregter Ian Gould wat vroeg al besluit het Paul Harris (die Proteas se linksdraaier) boul ’n negatiewe lyn.
Harris het in die eerste toets die Indiërs se sterte geknoop met sy bypen-boulplan. Gould was egter nie te vinde vir Harris se taktiek om die bal buite die bypen te laat grondvat in die hoop dat dit sal draai uit die voetmerke nie.
Gould het in Harris se 9de beurt twee van sy bypen-aflewerings as wydlopers geroep, wat as ’n waarskuwing moes dien.
Skeidsregters is by magte om boulers te straf as hulle meen dat boulers met opset ’n negatiewe lyn handhaaf.
Gould het Harris gevolglik met 12 wydlopers gestraf.
Van Zyl het Harris se taktiek verdedig. “Jy kan dit ’n negatiewe lyn noem, die skeidsregter het duidelik so gedink.
“Die blad het egter nie soveel draai toegelaat as wat Paul in Nagpur gekry het nie.”
- Die Burger