Vyf IPL-spelers geskors vir knoeiery
2012-05-15 21:06
Nieu-Delhi – Vyf plaaslike Indiese Premierliga (IPL)-spelers is Dinsdag uit krieket geskors ná ‘n operasie deur ‘n plaaslike TV-kanaal wat beweerde knoeiery en korrupsie ondersoek het, het owerhede van die sport gesê.
Die Raad van Beheer vir Krieket in Indië (BCCI) het gesê die spelers is voorlopig geskors tot ondersoeke na die bewerings afgehandel is.
Die vyf spelers – TP Sudhindra, Mohnish Mishra, Abhinav Bali, Amit Yadav en Shalabh Srivastava – is almal eersterangse krieketspelers wat vir verskeie spanne in die IPL speel.
“Die BCCI het besluit om hierdie spelers uit alle krieket te skors totdat die ondersoek na die hele episode voltooi is,” het Rajiv Shukla, IPL-kommissaris, aan verslaggewers gesê.
Die ondersoek sal uitgevoer word deur die voormalige polisiebeampte Ravi Sawani, wat voorheen gedien het in die Internasionale Krieketraad se Anti-Korrupsie en Veiligheid-eenheid, het Shukla bygevoeg.
Die Hindi-televisiekanaal India TV het gewys hoe Sudhindra, van die Deccan Chargers, na bewering instem om voorafbeplande foutballe in ‘n plaaslike amateurwedstryd te boul, terwyl Srivastava, van die Kings X1 Punjab, glo gehoor is waar hy gespog het dat hy dieselfde in die IPL kan doen.
Die kanaal het beweer dit het die snelbouler Srivastava opgeneem terwyl hy aan hul verslaggewers gesê het hy kan ‘n foutbal boul in die IPL vir een miljoen roepees (sowat R153 000).
Srivastava (30), wat twee seisoene van eersterangse krieket vir die noordelike staat Uttar Pradesh gespeel het, het die bewering ontken en gedreig om die TV-kanaal hof toe te sleep.
“Die stem wat sê ek is gereed om aan knoeiery deel te neem is nie myne nie,” het hy aan die Indian Express-koerant gesê. “Ek is gereed om dit met die BCCI, my span se eienaars en die IPL-raad uit te klaar.
“Ek sal beslis ‘n klag teen hulle indien.”
Nog ‘n Kings XI Punjab-speler, Yadav, is opgeneem waar hy gesê het hy het rede om te glo dat daar knoeiery in verlede jaar se wedstryd teen die Delhi Daredevils was. Hy kon egter nie sy bewering staaf nie.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- AFP