Vraagteken oor Smith se deelname
2010-03-17 10:27
Altus Momberg
Kaapstad - Die Proteas se afrigter, Corrie van Zyl, wag in spanning om te hoor of Graeme Smith betyds fiks sal wees vir die Twintig20-Wêreldtoernooi wat in Mei op die Wes-Indiese Eilande beslis word.
Smith het Maandagaand die middelvinger van sy regterhand gebreek toe hy ’n moeilike vangskoot benut het om Virender Sehwag in ’n Indiese Premierliga-wedstryd uit te haal.
Hy vlieg vandag (Woensdag) huis toe en sal die res van die IPL-kriekettoernooi misloop.
Van Zyl het Dinsdag aan Sport24 gesê hy het nog net per SMS met Smith gekommunikeer en wag nog vir die mediese verslae van die Rajasthan Royals om die erns van die besering te bepaal.
“Dit is moeilik om te bespiegel sonder al die feite. Dokter (Mohammed) Moosajee het egter gesê só ’n besering neem gewoonlik tussen drie en ses weke om te herstel. Ons hoop dat hy ná sowat vier weke weer kan begin oefen om reg te wees vir die eerste wedstryd,” het Van Zyl gesê.
Die Proteas speel hul eerste wedstryd van die T20-Wêreldbeker teen Indië op 2 Mei in St. Lucia.
Daar was Dinsdag ook ’n paar skokke toe die Proteas se keurders die groepe aangewys het vir die eendag- en toetsreekse teen die Windies in Mei en Junie.
Die toetsgroep is onveranderd van die een wat die louere in die onlangse toetsreeks in Indië gedeel het, maar daar is twee verrassende weglatings in die eendag-groep.
Dit blyk dat Herschelle Gibbs se eendagloopbaan dalk einde se kant toe staan nadat hy deur Hashim Amla vervang is, terwyl Ryan McLaren in Albie Morkel se plek in die eendaggroep ingesluit is.
Veral Morkel se weglating is ’n verrassing. Dis skaars ’n jaar sedert hy die Proteas se groot troef in die twee reeksoorwinnings oor Australië was.
Die gevoel bestaan glo dat sy boulwerk kwaai agteruit gegaan het.
Die keurders het ’n ook ’n voorlopige groep van 18 spelers vir die T20-Wêreldtoernooi aangewys met Justin Kemp, Vernon Philander en Rusty Theron van die interessante keuses.
Kemp se internasionale loopbaan was iets van die verlede toe hy verlede jaar in die Indiese Krieketliga (die sogenaamde rebelle-reeks) gespeel het. Philander is ná ’n swak vertoning in Engeland in 2008 gepos.
Die voorlopige T20-groep is:
Graeme Smith (k), Jacques Kallis, Loots Bosman, Johan Botha, Mark Boucher, AB de Villiers, JP Duminy, Herschelle Gibbs, Justin Kemp, Charl Langeveldt, Ryan McLaren, Albie Morkel, Morné Morkel, Wayne Parnell, Vernon Philander, Dale Steyn, Juan Theron, Roelof van der Merwe.
- Sport24