Voormalige-snelbouler soek top-pos
2012-08-17 13:30
Lahore – Die omstrede snelbouler Shoaib Akhtar het sy hand opgesteek om Pakistan se volgende boul-afrigter te word.
Pakistan soek reeds sedert Maart, toe die Australiër Dav Whatmore as hoofafrigter aangestel is, na 'n boul-breier met die voormalige snelbouler van Essex Ian Pont wat die voorste aanspraakmaker is.
"Ek is gereed om die boulafrigter vir Pakistan te wees," het Akhtar (37) aan joernaliste gesê. "As die PCB (Pakistanse krieketraad) my kontak sal ek my dienste aanbied."
Akhtar, wie se loopbaan deur fiksheid en dissiplinêre probleme gekniehalter is, het verlede jaar na afloop van die Wêreldbeker uitgetree.
Hy het 178 paaltjies in 46 toetse en 247 in 163 eendagwedstryde vir sy land platgetrek.
Pakistan speel vanaf 28 Augustus in die Verenigde Arabiese Emirate teen Australië in 'n kitsreeks wat uit drie eendag- en drie t20-wedstryde bestaan.
Akhtar het gesê Pakistan se snelbouler Umar Gul, wat nie gekies is vir die eendagwedstryde nie, sal gemis word.
"Albei Gul en Brett Lee sal gemis word, maar dit sal 'n goeie reeks wees en boulers sal 'n sleutelrol speel," het Akhtar gesê.
Lee het verlede maand sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.