Vergoedingskomitee wis nie van Majola-bonusse
2012-01-17 14:03
Pretoria – Krieket Suid-Afrika (KSA) se vergoedingskomitee sou nooit miljoene rande se bonusse goedgekeur het as hy geweet het sy personeel het reeds betaling vir dieselfde werk ontvang nie, het die voormalige voorsitter van KSA se finansiële komitee, Hentie van Wyk, Dinsdag gesê.
Van Wyk het aan die Nicholson-kommissie van ondersoek gesê die KSA se uitvoerende hoof, Gerald Majola, was veronderstel om besonderhede oor bonusse wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) en die Indiese Premierliga (IPL) betaal is, aan die KSA-raad of die vergoedingskomitee bekend te maak.
"Die grootste wolk daaroor [die IPL- en IKR-bonusse] is dat dit nie bekend gemaak is nie," het Van Wyk gesê.
"Dis nêrens bekendgemaak nie, want toe ons oor bonusse besluit het, het ons die vertoning van die IPL en IKR in ag geneem. Ons sien dit as 'n dubbele betaling.
"As ons in daardie stadium, toe ons die vergadering met die vergoedingskomitee gehad het, geweet het hulle het reeds dié bonusse ontvang, sou ons nooit vir hulle agt maal hulle maandelikse salaris gegee het nie.
"Dis hoe ons dit beskou het. Ons het ook gesê die geld moet terugbetaal word om die finansiële state vir die jaar te finaliseer."
Die kommissie van ondersoek na die geldsake van KSA het vroeër gehoor Majola was onder 40 KSA-werknemers wat in Mei 2010 groot bonusse ontvang het, ten spyte van die feit dat hulle reeds bonusse van die IKR en IPL ontvang het.
Van Wyk het gesê dié bonusse is eers twee maande later, in Julie 2010, onder die aandag van die vergoedingskomitee gebring deur 'n interne ouditproses.
Regter Chris Nicholson, wat die kommissie lei, het Van Wyk oor 'n vergadering op 10 Julie 2009 uitgevra, waar Majola na bewering die uitbetaling van die bonusse bekendgemaak het.
Van Wyk het gesê Majola is aan die einde van die vergadering deur 'n lid van die komitee gevra of KSA-personeel bonusse ontvang het.
Volgens Van Wyk het Majola net gesê hy het met die IPL onderhandel oor bonusse vir sy personeel.
Van Wyk het egter gesê dié uitlating was nie genoeg nie, veral nie wanneer die bedrae wat ter sprake is in ag geneem word nie.
"Met die hele verklaring is daar iets vreemds aan die gang," het hy gesê.
"Dit behoort verklaar te word, met name by. En in my opinie moes dit verklaar word, aangesien die bedrae so groot is.
"Ek dink nie dit [die mondelinge verklaring] is voldoende nie."
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA