Vat (weer) vyf, Vernon!
2011-12-16 07:35
Supersportpark – Die goeie werk van die Suid-Afrikaanse boulers op die eerste dag van die eerste kriekettoets hier teen Sri Lanka, moet vandag deur die kolwers voortgesit word.
Vernon Philander, wat Donderdag die derde keer in sy sprokie-toetsloopbaan van slegs drie toetse vyf paaltjies in ’n kolfbeurt geneem het, sê dit sal vanoggend belangrik wees om die eerste sessie te oorleef en hopelik sal die Suid-Afrikaanse kolwers daarna die lopies kan opstapel in gunstige toestande vir die wilgerlat-swaaiers.
Suid-Afrika kolf Vrydagoggend voort op 90/1, ’n agterstand van slegs 90 lopies.
Dié Kapenaar kan vergewe word as hy sou dink toetskrieket is die maklikste ding op aarde.
“Nee,” het hy Donderdagaand gelag ná sy uitstekende 5/53 in die Sri Lankane se eerste beurt van slegs 180 lopies, “ek probeer dinge maar net so eenvoudig moontlik hou.
“Daar was wel hulp vir die boulers in die blad, maar ek sal nie sê dit was oormatig nie. Jy moes steeds die bal in die plekke kry om sukses te behaal. Aanvanklik was die blad aan die stadige kant in die eerste skof, maar namate die son daarop gebak het, het dit vinniger geword in die middag.
“Daarom hoop ons teen môremiddag (vanmiddag) sal dit ideaal vir kolfwerk wees,” sê hy.
Philander het sommer al vroeg die groot vis aan die hoek gekry toe hy Kumar Sangakkara (1) deur Jacques Kallis in die glippe laat vang het in sy derde boulbeurt van die dag.
“Iemand het juis nou die dag vir my gesê ek kry die groot name se paaltjies, maar vir my maak dit nie saak of dit nou ’n Ricky Ponting, Sangakkara of die nommer nege, tien en elf is wat ek uithaal nie, vir my is hulle almal ewe belangrik en betekenisvol.
“Op ’n blad soos hierdie het ek maar net probeer om dinge eenvoudig te hou en myself wysgemaak ek boul op ’n dooie blad wat die kolwers bevoordeel en dat ek moet konsentreer om die bal in die regte plek te kry.”
Philander gaan in April en Mei vir Somerset in Engeland speel. Hy het gesê dit sal ’n uitdaging wees om in daardie toestande te boul.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg