Vat vyf, Morné Morkel!
2010-11-15 09:44
Doebai - Die Suid-Afrikaanse krieketspan het sy wipplank-toer na die Verenigde Arabiese Emirate Sondag voortgesit, dié keer met ’n vyfster- Morné Morkel aan die spits.
Veel meer gedissiplineerde boulwerk voor die middagete, ’n kliniese Morkel daarna én vier asembenemende vangkanse het die Pakistanse kolfbeurt die soveelste keer die afgelope drie weke laat verkrummel.
Met ’n voorsprong van 271 lopies en agt tweedebeurt-paaltjies staande, het die besoekers hul wurggreep opnuut verstewig ná een van hul droewigste dae van toetskrieket die afgelope dekade net ’n skrale 24 uur tevore.
Hashim Amla (44* , 93 balle, 4x4) en Jacques Kallis (32*, 68b, 2x4) sal vandag op 139/2 voortkolf nadat die tuisspan sy laaste sewe paaltjies vir net 72 lopies verloor en eindelik vir 248 uitgeknikker is.
Hoewel Azhar Ali (56, 172b, 5x4) en Younis Khan (35, 85b, 3x4) teen ’n slakkepas afgesit het, was dié oornagkolwers die eerste uur selde in die moeilikheid.
’n Oomblik van briljantheid deur AB de Villiers het hierdie vennootskap beëindig toe Khan ’n skadelose aflewering deur Johan Botha na middebaan wou slaan – maar die vlieënde blondekop het die bal op skouspelagtige wyse uit die lug gepluk.
Toe Amla kort daarna boonop van die Pakistanse kaptein, Misbah-ul-Haq (9, 38b, 1x4), ontslae geraak het met die eerste van twee byna onmoontlike vangkanse in die slagyster-posisie, was die knuppel behoorlik in die hoenderhok.
Umar Akmal (4) se onverklaarbare sloeghou, so reg uit die Shahid Afridi-handleiding, het aan Botha (3/61) sy derde slagoffer besorg en die tuisspan op 202/5 laat wankel.
Dié Baaise draaier was deurgaans ’n bedreiging en het sy insluiting ten koste van ’n vierde naatbouler regverdig – terwyl Paul Harris (1/47) suinig was met die lopies.
Mark Boucher het die Proteas se droomdag in die veld voortgesit toe Dale Steyn (1/58) kort ná die middagete die buiterand van Adnan Akmal (10, 26b, 1x4) se kolf gevind het.
Boucher het die bal enkele sentimeter van die grond af opgeraap om Akmal se hardnekkige beurt te beëindig en Morkel (5/54) los te laat teen ’n kwesbare kolfstert.
Die hemelbesem het díe stert in ’n japtrap geknoop, met Abdur Rehman (1, 5b), Ali, Wahab Riaz (5, 4b, 1x4) en Saeed Ajmal (2, 4b) wat tussen hulle net 28 lopies om die laaste vier paaltjies kon bydra.
Die Sri Lankaanse skeidsregter Asoka de Silva het die Pakistani’s se hoop tydelik laat opflikker deur Alviro Petersen (26, 49b, 3x4) én die Proteas-kaptein, Graeme Smith (34, 79b, 5x4) met twyfelagtige been voor paaltjie-beslissings te laat terugstap voordat Amla en Kallis dit met ’n onoorwonne vennootskap van 63 lopies straks finaal uitgedoof het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24