Tsotsobe klim 10 plekke op IKR-ranglys
2012-01-23 13:00
Londen – Die Suid-Afrikaanse snelbouler Lonwabo Tsotsobe het met 'n briljante vertoning in die eendagreeks teen Sri Lanka, tien plekke op die Internasionale krieketraad (IKR) se ranglys vir boulers gespring.
Tsotsobe was saam met Sri Lanka se Lasith Malinga die voorste paaltjienemer in die eendagreeks van vyf wedstryde, wat Sondag in Johannesburg geëindig het.
Die 27-jarige van Port Elizabeth het 11 paaltjies teen die verlies van slegs 19 lopies per paaltjie platgetrek, in die Proteas se 3-2 reeksoorwinning.
Hy beklee nou die derde plek op die eendagranglys vir boulers.
Morné Morkel het een plek na die sewende posisie teruggesak en Dale Steyn het vyf plekke na die 15de posisie geval.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– icc-cricket