Titans kraai koning
2012-02-12 18:03
Johannesburg – Die Titans het die Supersportreeks-titel Sondag gewen nadat die ander aanspraakmakers, die Cobras, vir 420 uitgeboul is in hul wedstryd teen die Highveld Lions by die Wanderers.
Die Cobras moes 540 lopies aanteken en ‘n oorwinning behaal om die kampioenskap te wen, nadat die Titans 21,46 punte gekry het in hul oorwinning oor die Dolphins in net meer as twee dae.
Die Titans het die trofee laas in 2008/09 gewen en dit is die derde keer dat hulle die kampioenskap wen sedert die aanvang van die franchise-stelsel.
Gerald Majola, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, het die Titans geluk gewens met hul trofee. “Dit is welverdiend, aangesien hulle meer oorwinnings as enige ander span behaal het en konsekwent vermaaklike en aanvallende krieket gespeel het.
“Ek wil graag die afrigter, Matthew Maynard, en die kaptein, Martin van Jaarsveld, persoonlik gelukwens, in hul eerste seisoen as die nuwe leierskap van die Titans.
“Die Cobras het ook uitstekende krieket hierdie seisoen gespeel en albei hierdie franchises het hul diepte ten toon gestel deur die twee hoof-mededingers om die Supersportreeks-titel te wees en groot bydraers tot die Proteas-groep te wees.”
- Volg Nuus24Sport op Twitter