Tahir se vreugde-vlug 'uit hart'
2011-12-23 09:40
Johannesburg – Sy uitbundigheid wanneer hy ’n paaltjie neem, “kom uit die hart uit”, het Imram Tahir, die nuweling-draaier in die Suid-Afrikaanse toetskrieketspan, gesê.
“Vir my is dit die beste gevoel wat daar is wanneer ek ’n paaltjie vat en ek kan myself nie keer nie.
“Dan borrel my hart oor van blydskap en gee ek op die snaaksste manier uiting aan my vreugde,” het hy gister oor sy uitspattige viering van sy paaltjies vertel.
“Nee, ek beplan niks nie. Dit gebeur maar net,” lag hy oor die holderstebolder-manier waarop hy afsit op ’n vreugde-vlug waar hy met uitgestrekte arms grenswaarts hardloop met van sy spanmaats agterna.
Dan slaan hy soms op die SA wapen op sy bors, voordat hy met gebalde vuiste tot stilstand kom.
“Die mense is mal daaroor. Ek kry soveel oproepe van my vriende wat sê ek moet kyk hoe ek ’n paaltjie gevier het.
“Ek geniet dit om dit te sien, want ek weet daar is niks aansitterigheid daaraan nie.
“Dit is bloot eenvoudig my vreugde wat uitborrel en só ’n uitlaatklep vind. Dit is maar net hoe ek is.
“Ek het nog altyd hierdie droom gehad om toetskrieket te speel – en nou het dit werklikheid geword.
“Vir my gaan dit daaroor om altyd 100% te gee wanneer ek vir my land speel.
“Suid-Afrika is my land en ek het geen groter passie om suksesvol in toetskrieket vir Suid-Afrika te wees nie,” vertel dié gebore Pakistani.
Al is hy as aanvallende draaier in die span, koester hy ook sy kolfwerk. Hy glo as dit die dag gebeur dat hy sy eerste toets-vyftigtal aanteken, sal hy sweerlik ’n ererondte om die veld hardloop met sy kolf al swaaiende in die lug.
“Gary Kirsten (SA afrigter) help my baie met my kolfwerk en hy leer my hoe om mooi in lyn van die aflewerings te kom.
“Ek is baie dank verskuldig aan almal verbonde aan die span vir die manier waarop ek in die span aanvaar is.
“My groot doel is om Suid-Afrika net te help om toetse te wen, maak nie saak watter rol ek moet speel nie. Al help die blaaie nie die draaiers nie pla dit my nie, want ek weet dit is dan ideaal vir die snelboulers.
“As ek die kans kry gaan ek voluit om paaltjies te neem, want dit is hoekom ek in die span is.”
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- Die Burger