Tahir is 'n vars briesie
2012-01-06 07:33
Kaapstad – Imran Tahir, die Proteas se bybreker, verleen broodnodige afwisseling aan die boulaanval én vuur dié krieketspan aan met sy onblusbare entoesiasme.
Die 32-jarige Tahir het Donderdag hier op Nuweland die toeskouers gaande gehad met die uitbundige wyse waarop hy sy paaltjies gevier het.
Die gebore Pakistani kon nie sy blydskap beteuel nadat hy die voorslag-kolwer Kumar Sangakkara se paaltjie platgetrek het nie. Hy het tot by die grenstou gestorm, die Protea op sy bors uitgelig en vir die toeskouers gewys.
Suid-Afrika is op die rand van sy eerste oorwinning in ’n tuistoetsreeks sedert hy Bangladesj in 2008 geklop het, nadat Sri Lanka Donderdag gevra het om op te volg.
Die besoekers is vir 239 uitgeboul in hul eerste beurt en het Donderdagaand met die uitskeityd op 138/4 gewankel.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24