Tahir is SA burger
2011-01-02 14:38
Nou mág Imran Tahir vir die Proteas speel.
Gerald Majola, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), het Saterdag gesê Suid-Afrikaanse burgerskap is die naweek toegestaan aan dié 31-jarige bybreekdraaier, wat in Pakistan gebore is en die afgelope paar jaar lank reeds sukkel om sy aangenome land te verteenwoordig.
Tahir is einde voorverlede jaar ingesluit in die Protea-groep vir die toetsreeks teen Engeland, maar moes ’n dag later onttrek word weens onsekerheid oor sy nasionaliteit.
“Imran is nou ten volle verkiesbaar vir Suid-Afrika, nadat die regering aan hom permanente burgerskap toegestaan het,” het Majola gesê.
“Hy voldoen ook aan die Internasionale Krieketraad (IKR) se vereistes, aangesien hy langer as vier jaar gelede laas die Pakistanse A-span verteenwoordig en sedertdien sy krieket in Suid-Afrika gespeel het.”
Majola het verlede maand ’n pleidooi gelewer aan die regering om dié proses te bespoedig – en hoewel dit te laat is vir Tahir om van vandag af in Kaapstad in die beslissende toets teen Indië te speel, sal die land se krieketbase nou alles in die stryd werp om toe te sien dat hy ook verkiesbaar is vir die Wêreldbeker-toernooi.
Die Proteas moes reeds hul voorlopige groep van 30 bekend maak vir dié skouspel, wat aanstaande maand in die subkontinent begin.
Tahir het reeds 535 paaltjies in 127 eersterangse wedstryde platgetrek teen ’n verstommende gemiddeld van 25.09 en is boonop loshande die voorste paaltjievraat in die plaaslike SuperSportreeks dié seisoen.
Sy vertoningslys in eendagkrieket is selfs meer indrukwekkend – met 140 paaltjies in 96 wedstryde teen ’n gemiddeld van 22.74 en ’n lopietempo van net 4.55.
Daarteenoor het Paul Harris (32), die Proteas se eerste-keuse toetsdraaier, 102 paaltjies in 36 toetse laat kantel (teen 37.25) en 367 eersterangse paaltjies in 111 wedstryde (teen 31.42) ingeoes.
Johan Botha, die Suid-Afrikaners se 28-jarige kitsdraaier, spog met 17 slagoffers in vyf toetse (33.70) en 156 in 67 eersterangse wedstryde, teen ’n raps onder 32 lopies per paaltjie.
Tahir, wat die Titans aan die begin van die seisoen vir die Dolphins in Durban verruil het, is onmiddellik verkiesbaar, sê Majola.
“Imran het dié land sy tuiste gemaak en is geruime tyd reeds met ’n Suid-Afrikaner getroud. Hy word hoog aangeslaan deur sy spanmaats én teenstanders en is die afgelope paar seisoen reeds een van die voorste paaltjievrate,” het Majola gesê.
- Rapport