T20-eindstryd op Wanderers
2010-06-29 11:07
Johannesburg – Die Wanderers in Johannesburg, een van die mees bekende krieketgronde, sal gasheer speel vir die eindstryd van die Twintig20-kampioeneliga.
Dié toernooi skop af op 10 September met die openingswedstryd wat tussen die Mumbai Indians en Highveld Lions op die Wanderers gespeel sal word.
Die Twingtig20-kampioeneliga se halfeindrondes sal in Durban en Centurion op 24 en 25 September plaasvind en die eindstryd op 26 September (Wanderers).
Die tien deelnemende spanne is in twee groepe verdeel waarvan die twee topspanne van elke groep na die halfeindrondes sal deurdring.
Die Mumbai Indians en die Highveld Lions is in Groep B saam met Australië se Redbacks, die Royal Challengers Bangalore en ‘n span van die Wes-Indiese Eilande wat later in Julie aangekondig sal word.
Groep A sluit in, die Chennai Super Kings (Indië), Victoria Bushrangers (Australië), Warriors (SA), Wayamba (Sri Lanka) en Central Stags (Nieu-Seeland).
‘n Hele aantal spelers het ook vanjaar gekwalifiseer om vir meer as een span te mag speel.
Hulle is Jacques Kallis (Warriors*, Royal Challengers Bangalore), Mark Boucher (Warriors*, Royal Challengers Bangalore), Makhaya Ntini (Warriors*, Chennai Super Kings), Kieron Pollard (Redbacks, Mumbai Indians), Dwayne Bravo (Victorian Bushrangers, Mumbai Indians) en Cameron White (Victorian Bushrangers*, Royal Challengers Bangalore).
Soos wat die geval in 2009 was, sal kompensasie van $200 000 (bykans R1.4 miljoen) aan ‘n speler se tuisspan betaal word indien hy gekies word om eerder vir sy tweede span te speel.
* Speler se tuisspan
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24