Strik kan wag vir Titans in halfeind
2010-01-23 09:06
Christo Buchner
Johannesburg - So op die oog af behoort môre se halfeindstryd in die MTN40-krieketreeks ’n eensydige affêre te wees, met die Titans – al is hulle sonder Dale Steyn – wat heeltemal te veel skietgoed vir die Dolphins het.
Nie net kry die Ligbloues hul nasionale spelers soos AB de Villiers, Morné Morkel en Paul Harris terug nie, maar hulle het boonop die tuisvoordeel in Centurion.
Voeg daarby dat hulle ’n volle 20 ligapunte bo die KwaZulu-Natallers geëindig het en dit is moeilik om te sien hoe die Titans uit die eindstryd gehou kan word.
Tog weet ons almal sport werk nie so nie.
Hierdie is ’n eenmalige geleentheid en die oorweldigende gunsteling kan baie maklik in ’n strik trap.
Boonop het die Dolphins verlede Sondag juis in die laaste ligawedstryd met die Titans in Pietermaritzburg afgereken.
“Ek lees nie te veel daarin nie,” sê Graham Ford, die Dolphins-afrigter.
“Die Titans lyk heeltemal anders en niemand kan stry nie dat hulle ’n span van gehalte is.
“Dit gaan baie moeilik vir ons wees, veral op hul tuisveld,” gee Ford toe.
Hul kolwers hoef nie te bekommer om Steyn ook te sien instoom nie.
Hy sukkel met ’n voetbesering en is nie oorweeg nie.
Die Titans se afrigter, Chris van Noordwyk, sal nog moet kopkrap oor sy twaalftal. Sy probleem is wie om in sy sterbelaaide groep uit te laat.
Hy het egter die versekering gegee sy kaptein, Pierre Joubert, sal nie soos vroeër in die seisoen, toe hy ook die nasionale spelers beskikbaar gehad het, in die slag bly nie.
“Pierre het die span uitstekend gelei in die eendagreeks en ek steun hom ten volle.
“Hy sal beslis deel van die span wees,” sê Van Noordwyk.
Indien die reën tussenbeide tree en daar nie môre ’n uitslag is nie, word die wedstryd Maandag as ’n dag-aand-stryd beslis.
Sou dit steeds reën, sal die Titans dan deurdring omdat hulle hoër as die Dolphins op die puntelys geëindig het.
* Die groepe is:
Titans (uit): Pierre Joubert (k), Farhaan Behardien, Gulam Bodi, AB de Villiers, Faf du Plessis, Paul Harris, Heino Kuhn, Ethy Mbhalati, Albie Morkel, Morné Morkel, Jacques Rudolph, Blake Snijman, Roelof van der Merwe en Basheer Walters.
Dolphins (uit): Loots Bosman, Imran Khan, Hashim Amla, Ahmed Amla (k), Dale Benkenstein, David Miller, Andrew Hall, Daryn Smit, Kyle Abbott, Kyle Nipper, Johann Louw, Alfonso Thomas en Pierre de Bruyn.
Begintyd: 10:00.
TV: Om 09:30 op SS 2 en 14:00 op GDN.
- Die Burger