Strauss se aantygings 'snert' - Arthur
2010-01-12 09:51
Johannesburg - Mickey Arthur het Engeland se krieketkaptein, Andrew Strauss, se aantyging dat hy kwaadwillig opgetree het in verlede week se “balpeutery”-voorval in Kaapstad as snert afgemaak.
“As ek kwaadwillig wou wees, sou ek voortgegaan het en ’n klag by die Internasionale Krieketraad (IKR) ingedien het,” sê hy oor die gebeure toe Stuart Broad met sy stewel op die bal getrap en Broad en James Anderson met hul naels aan die bal se naat getorring het.
“Ons het bloot die voorval onder die aandag van die wedstrydskeidsregter gebring.
“Toe hy sê hy is tevrede dat daar nie met die bal gepeuter is nie, het ons dit so aanvaar.
“Wat ons betref, is dit iets wat tot die verlede behoort en ons konsentreer bloot daarop om die laaste toets te wen en daarmee die reeks gelykop te laat eindig,” sê die afrigter van Suid-Afrika.
Op die vraag of hy die saak verder sal voer indien Broad en Kie. hier op die Wanderers in die vierde toets weer so iets sou doen, het die Proteas se afrigter geglimlag en gesê: “Ek dink darem nie Broad sal so dom wees om weer op die bal te wil trap en daarmee te peuter nie.
“Engeland weet die kameras en aandag sal op hulle (gefokus en) gevestig wees,” sê hy.
“Soos ons tot dusver gespeel het, glo ek beslis nie ons verdien om die reeks te verloor nie en sal daar darem ’n mate van regverdigheid wees as ons dit kan deel.”
Hoe dit ook al sy, die voorvalle in die toets in die Kaap het die verhouding tussen die spanne versuur en dít sal die intensiteit in die laaste toets verhoog.
Gerald Majola, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, sê die boodskap is duidelik aan die spelers deurgegee dat ’n sege ononderhandelbaar is.
“Ek wil geen verskonings hoor nie.
“Ons móét net hierdie toets wen.
“As die weer ons pootjie, moet ons dit aanvaar, want jy kan niks daaraan doen nie. Maar as daar vyf dae se spel is, verwag ek niks minder as ’n oorwinning nie,” sê Majola.
Hy vergader ook vandag met Imran Tahir, die gebore Pakistani wat in die toetsgroep gekies is, maar wat weens probleme met sy paspoort en verblyfvereistes ’n dag later onttrek moes word.
Arthur het gesê dit is ’n terugslag dat hy (Tahir) nie meer daar is nie, “want ek sou hom graag in die volgende paar dae beter wou leer ken en sien waartoe hy in staat is.
“Ek is nog nie seker of hy dít is waarna ons soek nie,” het hy oor dié gewrigsdraaier gesê.
- Die Burger