Strauss: 'Bring maar vir Steyn'
2009-12-25 08:39
Durban - Die Engelse krieketkaptein Andrew Strauss het Donderdag by 'n perskonferensie gesê hy het volle vertroue in sy kolwers se vermoë om teen 'n moontlike verskerpte Suid-Afrikaanse boulaanval Saterdag op Kingsmead te staan te kom.
Dale Steyn, SA se vuurvreter-naatbouler kon nie in die eerste toets op Centurion speel nie weens 'n besering. Maar dit blyk of hy gaan terugkeer vir die tweede toets in Durban.
Dit wil ook voorkom of Jacques Kallis weer gaan deelraak van die boulaanval, nadat sy beseerde ribbebeen hom kwaai beperk het in die eerste toets.
Die weer kan egter 'n groot rol speel in Durban, met reën wat voorspel word.
Strauss het die volgende te sê gehad oor Steyn: "Ek respekteer hom as 'n bouler. Hy is die tipe bouler van wie af jy lopies kan aanteken, maar hy kom ook vorendag met balle wat die paaltjies laat kantel.
"Maar as hy nog 'n bietjie geroes is en 'n paar los balle boul, sal dit belangrik wees vir ons om die balle te moker en hom onder druk te plaas."
In reaksie op Graeme Smith se uitlating dat die Proteas die beter span was tydens die eerste toets, toe die tuisspan net een paatljie moes neem met 20 balle tot hul beskikking om die toets te wen, het Strauss gesê die druk lê nou op SA.
"Dit kan 'n mens nogal ontmoedig wanneer jy 'n span op sy laaste paaltjie kry en steeds nie wen nie."
Hy het egter erken sy span sal beter moet speel as wat hulle in die eerste toets gedoen het.
Kingsmead is bekend daarvoor dat die hulp bied aan die naatboulers, voordat dit plat begin raak.
Die drie vorige toetse op Durban het elkeen gelykop geëindig.
- Sapa