Sri Lanka-ster ná fel kritiek op pad na SA
2011-11-30 07:07
Colombo– ’n Groot geestelike uitdaging wag.
Dít, glo die ster-kolwer Mahela Jayawardene, is Sri Lanka se voorland wanneer die besoekers vanaf 15 Desember die Proteas in Suid-Afrika die stryd aansê.
Die Sri Lankane het teleurgestel in hul onlangse vertonings teen Pakistan in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) – en Jayawardene meen dinge gaan ook nie makliker raak nie.
Pakistan het die toetsreeks met 1-0 beklink en met 4-1 in die eendagreeks koning gekraai.
“Die toer in die VAE was frustrerend, want ons het veral in die vierde en vyfde eendagwedstryde verskeie kanse deur ons vingers laat glip,” het Jayawardene in die Daily Times geskryf.
“Suid-Afrika gaan geestelik ’n nóg groter uitdaging wees. Ons moet vergeet wat teen Pakistan gebeur het. Ons kan dit nie as momentum gebruik en dink alles gaan in Suid-Afrika seepglad verloop nie. Ons sal op ons sterkpunte moet fokus en op die positiewe aspekte teen Pakistan konsentreer,” het Jayawardene gesê.
Intussen is die middelorde-kolwer Thilan Samaraweera weer in die toergroep na Suid-Afrika ingesluit nadat die nasionale keurders hom vroeër oor die hoof gesien het, het Sri Lanka se minister van sport, Mahindananda Aluthgamage, gister gesê.
Sy aanvanklike weglating het fel kritiek tot gevolg gehad, veral omdat Sri Lanka se kolwers so power teen Pakistan vertoon het.
Die 35-jarige Samaraweera is in September vir die derde tuistoets teen Australië weggelaat en daarna ook nie vir die toer na die VAE gekies nie.
Dit het daartoe gelei dat Sri Lanka se kaptein, Tillakaratne Dilshan, laer af moes kolf om die hotklou Lahiru Thirimanne kans te gee.
Samaraweera is nou die 17de lid van die groep, wat geoormerk is om drie toetse en vyf eendagwedstryde teen die Proteas te speel. Sri Lanka kon nog nooit ’n toetsreeks in Suid-Afrika wen nie.
Die Sri Lankaanse groep is:
Tillakaratne Dilshan (k), Angelo Mathews (o/k), Tharanga Paranavitana, Kumar Sangakkara, Mahela Jayawardene, Dinesh Chandimal, Kaushal Silva, Lahiru Thirimanne, Dimuth Karunaratne, Chanaka Welegedara, Dilhara Fernando, Nuwan Pradeep, Suranga Lakmal, Thisara Perera, Ajantha Mendis, Rangana Herath, Thilan Samaraweera.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg