Sri Lanka plat, maar 'hoop om op te staan'
2012-01-16 07:03
Oos-Londen – Sri Lanka se krieketspan vestig sy hoop op sy senior kolwers om die eendagreeks teen Suid-Afrika te red.
Suid-Afrika loop met 2-0 voor en kan die reeks van vyf wedstryde Dinsdag met ’n oorwinning in Bloemfontein beklink.
Die Sri Lankaanse kaptein, Tillakaratne Dilshan, het gesê sy span se groot probleem is dat sy kolfbeurte nie goed begin nie.
“Ons teken in die eerste 20 beurte te min lopies aan. Ons drie senior kolwers is nie op dreef nie,” het hy na sy, Kumar Sangakkara en Mahela Jayawardene se gesukkel verwys.
“As darem net twee van ons drie ons beste peil kan bereik, sal ons kan saampraat,” het hy gesê en Suid-Afrika se boulwerk in die reeks lof toegeswaai.
Hoewel Sri Lanka oor die seniors se kolfwerk bekommerd is, het Suid-Afrika steeds groot respek vir hul vermoë as wedstrydwenners.
Suid-Afrika se kaptein, AB de Villiers, het na Sangakkara en Jayawardene as gevaarmanne verwys en het hul paaltjies as sleutel-oomblikke in Saterdag se sege met 5 paaltjies hier op Buffalopark uitgelig.
Dilshan is in sy skik met Dinesh Chandimal se kolfpeil.
“Hy is ’n fantastiese speler wat nog lank vir Sri Lanka diens sal doen.”
Hy glo die reeks is nog nie vir Sri Lanka verlore nie, maar dat sy spelers met 15 persent sal moet verbeter.
“Ná ’n groot nederlaag in die eerste wedstryd was ons naby aan ’n oorwinning in die tweede. Dit is net belangrik dat ons die kolfbeurte beter begin en vroeg paaltjies vat wanneer ons boul.”
De Villiers was in sy noppies dat Suid-Afrika die geduld en konsentrasie kon wys wat op Buffalopark se stadige blad nodig was.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg