Proteas slaan vroeg toe
2011-12-15 11:20
Johannesburg – Dale Steyn het vroeg toegeslaan en die paaltjie van Sri Lanka se Tillakaratne Dilshan in die eerste van drie toetse in Centurion geneem.
Kumar Sangakkara is minute later deur Jacques Kallis op tweede glip uitgevang en Vernon Philander het sy eerste paaltjie van die toets besorg.
Suid-Afrika se kaptein, Graeme Smith het die loot gewen en Sri Lanka ingestuur om eerste te kolf in die eerste van drie toetse in Centurion, het RSG berig.
'n Groen kolfblad ná goeie reën in Gauteng dié week kan die naatboulers, gelei deur die nommer een toetsbouler, Dale Steyn, bevoordeel.
Suid-Afrika het dieselfde span behou as dié wat die toetsreeks teen Australië gespeel het.
Die draaibouler, Imran Tahir het sy plek behou saam met Steyn, Morné Morkel en Vernon Philander.
Sri Lanka se staatmaakkolwer en voormalige kaptein, Kumar Sangakkara is fiks om te speel, nadat hy sy hand die naweek in 'n opwarmingswedstryd beseer het.
– Sport24.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.