Span kom eerste, sê Amla oor sy rekords
2010-02-08 06:18
Altus Momberg
Nagpur - Dit maak nie saak waar hy sy dubbele honderdtal geslaan het nie, vir Hashim Amla was dit ’n ongelooflike oomblik.
Die Suid-Afrikaanse kolwer het gister hier die rekordboeke herskryf toe hy ’n onoorwonne 253 in die eerste kriekettoets teen Indië gemoker het. Suid-Afrika het kort voor die uitskeityd op dag twee sy beurt op 558/6 gesluit verklaar.
Toe hy op die nuuskonferensie gevra is of dit ekstra betekenis gehad het om dit in Indië te doen, het hy gesê die plek maak nie saak nie.
Amla se grootouers is afkomstig van die staat Gujarat in Indië.
“Ek is baie dankbaar vir die kans, maar meer belangrik is dat ek die span gehelp het om in ’n gunstige posisie te wees. Individuele mylpale is fantasties, maar dis ’n spansport en die span se posisie is wat tel,” het die beskeie baardman gesê.
Gary Kirsten, ’n voormalige Protea-ster wat deesdae in Indië afrig, was ook vol lof vir Amla se ongelooflike kolfwerk.
“Hy het van kleins af in plaaslike krieket gewys dat hy lang tye kan kolf en die vermoë het om lank te konsentreer.”
Amla en Jacques Kallis het ’n hele paar rekords laat spat.
Die onoorwonne 253 is die hoogste telling deur ’n Suid-Afrikaner teen Indië en die 7de hoogste telling deur ’n SA kolwer.
Hy en Kallis (173) het 340 lopies om die 3de paaltjie aangeteken. Dit is die meeste vir enige vennootskap deur ’n SA paar teen Indië en was 10 lopies kort van die grootste vennootskap deur enige land hier teen Indië.
Amla het ook die mylpaal van 3 000 toetslopies tydens sy beurt verbygesteek – die 13de Suid-Afrikaner wat dít gedoen het.
- Die Burger