Soektog begin na nuwe Parnell
2009-12-18 12:06
Kaapstad - Die soektog na die volgende Wayne Parnell begin volgende maand wanneer die Suid-Afrikaanse o.19-span deelneem aan die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland.
Die Suid-Afrikaanse skole-, akademie- en o.19-spanne is Woensdagaand gekies na afloop van die Khaya Majola-krieketweek in Benoni.
Parnell was die o.19-span-kaptein toe hulle twee jaar gelede in die finaal van dié toernooi in Maleisië verloor het.
Shafiek Abrahams, `n voormalige nasionale draaibalbouler en die huidige voorsitter van die o.19-keurkomitee, het sy vertroue dat die span goed sal vaar in Nieu-Seeland Donderdag uitgespreek.
"Die eerste prioriteit op hierdie vlak is nie om die toernooi te wen nie. Ons wil spelers produseer wat vir Suid-Afrika kan speel in die toekoms. Dit is ons eerste prioriteit," sê Abrahams.
"Ons wil ook geleenthede skep vir die spelers. Daar is net ses franchises in Suid-Afrikaanse krieket en dié toernooi is `n geleentheid vir jong spelers om een van dié franchises te oortuig dat hulle `n kontrak werd is."
Die span wat die finaal gehaal het in 2008 is `n perfekte voorbeeld.
Parnell, wat `n sleutelspeler in Suid-Afrika se eendagspan geword het, is `n ooglopende suksesstorie. `n Hele paar topspelers uit die groep het hulself sedertdien laat geld.
Rilee Rossouw en Reeza Hendricks is albei kolwers vir die Arende, terwyl Jon-Jon Smuts (Warriors) en Pieter Malan (Titans) gereeld vir hulle streekspanne speel.
"Ek hou nie daarvan om spelers uit te sonder nie maar ons het talle sterre vir die toekoms. Colin Ackerman het baie lopies oor die laaste paar maande aangeteken terwyl Dale Deeb, draaibalbouler vir die Lions, baie belofte toon," sê Abrahams.
Die voormalige Protea-afrigter Ray Jennings sal die o.19-span in Nieu-Seeland afrig.
Die spanne is:
SA o.19:
Josh Richards (kaptein), Samuel Mofokeng, David White, Colin Ackerman, Matthew Kennedy, Simon Khomari, Stephan Smit, Bokang Mosena, Dale Deeb, Graham Hume, Malcolm Nofal, Dominic Hendricks, Cody Chetty, Rabian Engelbrecht, Jerry Ngolo.
SA Skole:
Josh Richards (kaptein), Mujahiid Behardiend, Andre Malan, Matthew Hullet, David White, Malcolm Nofal, Bokang Mosena, Calvin Savage, Siyabulela Simetu, Sammy Mofokeng, Itumeleng Moseke.
- Sport24