Smith verdien meer
2012-01-20 07:06
Kimberley – Graeme Smith het al baie vir Suid-Afrika beteken en verdien meer tyd as ander om weer sy voete vind.
Só het die Proteas-afrigter, Gary Kirsten, Donderdag gesê met die druk wat behoorlik oplaai op Smith, wat voor vandag se vierde eendagwedstryd hier op die Diamant-ovaal teen Sri Lanka ’n ongewone lopiedroogte beleef.
Die 30-jarige Smith se 141 teen Engeland in 2009 in Centurion was sy laaste honderdtal van sy afgelope 35 kolfbeurte in kitskrieket.
Sy kop word in sekere kringe geëis nadat hy 6, 28 en 2 lopies in die eerste drie wedstryde van die reeks teen Sri Lanka aangeteken het.
Kirsten het gesê hy is in sy speeldae ook deur só ’n groef en kan hom daarom vereenselwig met wat die arme Smith nou deurmaak.
Hy het bygevoeg Smith sal gou iets doen.
“Hy gaan deur ’n moeilike tydjie en hy besef dit.
“Daar is baie druk op hom en hy weet hy sal móét presteer. Ek is ook daardeur toe ek gespeel het – ek weet presies waaroor dit gaan.
“Ons moet hom soveel moontlik ondersteun in die span.
“Hy het nog altyd ’n ongelooflike teenwoordigheid in die span gehad.
“Hy was AB (de Villiers) sover in die reeks uitstekend van hulp uit ’n kapteinsperspektief. AB besef dit. Hy het baie hooi op sy vurk. Hy is die kaptein en hy is die paaltjiewagter. Daai is twee groot rolle om te vertolk in drie en ’n half uur op ’n krieketveld.”
Kirsten meen omdat Smith sy land so lank gedien het as ’n leier en omdat hy vir soveel jare nou reeds die “gesig van die span” is, verdien hy dalk ’n bietjie meer tyd as ander.
“Hy gaan nou deur ’n strawwe tydjie en ek glo net hy het ondersteuning nodig.
“Hy is bewus daarvan dat hy binnekort ’n (groot) beurt moet speel – hy sal iets moet doen. Maar sekerlik, terwyl hy hier is het hy al ons ondersteuning nodig.”
Kirsten het voorts gesê die vars en entoesiastiese nuwe kaptein, De Villiers, was tot dusver fantasties.
Hy het gesê Smith het De Villiers met sekere dinge gehelp, maar die het ook ’n paar idees van sy eie.
“Ek dink hy was nogal kreatief in die veld, hy het met ’n paar nuwe idees vorendag gekom wat ek dink goed vir ons is.
“Hy geniet dit hoewel hy dit nogal straf vind met die dubbele rol as kaptein en paaltjiewagter wat nie maklik is nie. Maar alle krediet aan hom, dit was nie altyd maklik vir hom nie, maar hy geniet dit. Hy is ’n positiewe ou en het varsheid in die posisie gebring.”
Intussen het die span Donderdag ’n tweede agtereenvolgende dag nie geoefen nie.
Op die vraag waarom nie het Kirsten gesê soms is daar dalk meer waarde daarin deur nie te oefen nie.
Hy het gesê die spelers het ’n fisieke tydjie agter die rug.
Daar is ’n moegheid in die kleedkamer te bespeur ná die baie krieket en hulle dink dat rus tans meer tot hul voordeel sal strek.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg