Smith soek nuwe maat
2010-05-22 23:38
Christo Buchner
Johannesburg - Die kolfblad van die Sir Vivian Richards-stadion in Antigua is alles behalwe die ideale plek om jou selfvertroue as kolwer te herwin.
Twee onseker vertonings in die twintig20-krieketwedstryde daar het albei op oorwinnings vir Suid-Afrika oor die Wes-Indiese Eilande uitgeloop.
Vandag en Maandag wag die eerste twee kragmetings in die eendagreeks op dieselfde veld – en groot tellings op dié onvoorspelbare blad is blykbaar buite die kwessie.
Suid-Afrika het in die t20-wedstryde beskeie tellings van onderskeidelik 136 en 120 suksesvol verdedig.
Net enkele kolwers van die Proteas het met enige vertroue gespeeel op ’n blad, waarop hulle nie seker was of die bal hul kop of tone gaan tref nie.
Tog sal Graeme Smith en sy SA span nou enige oorwinning met ope arms verwelkom, maak nie saak hoe dit behaal word nie.
In Donderdag se tweede blitswedstryd het die nuweling David Miller (33) en Johan Botha (23) toegesien dat Suid-Afrika darem by 120/7 uitkom.
Botha (3/22) het ’n puik veelsydige vertoning gelewer en gehelp om die Windies tot 119/7 te beperk.
Morné Morkel (2/15) het ook die gunstige boultoestande uitgebuit om twyfel in die Windies-kolwers se gemoed te saai.
Suid-Afrika moet die gunsteling wees in die eendagreeks van vyf kragmetings, waarvan twee in Antigua, twee in Dominica en een in Jamaika gespeel word.
Die Windies is ’n verrinneweerde span wat baie min selfvertroue het.
Maar alles is nog nie maanskyn en rosegeur vir die Suid-Afrikaners ná hul twee seges nie.
Loots Bosman het wéér misluk en daar moet plan met hom gemaak word. Dit het tyd geword dat Smith ’n nuwe aanvangsmaat kry.
Hashim Amla behoort daardie rol in die eendagwedstryde te kry.
Dan sukkel JP Duminy ook kwaai en hy sal gewis met kort aflewerings gepeper word noudat dit regdeur die krieketwêreld aan die groot klok gehang is dat hy nie lief is vir kort balle nie.
Wanneer Jacques Kallis reg is, kan hy op nommer drie kolf, met die volgende drie plekke wat deur AB de Villiers, Alviro Petersen en David Miller geneem kan word.
Ryan McLaren se teenwoordigheid sal ook stabiliteit aan die kolf- én boulwerk verleen.
Dale Steyn het dalk ’n blaaskans nodig, want hy lyk gaar gespeel ná ’n besige laaste paar maande.
Dit sal aan Morkel, Lonwabo Tsotsobe en Charl Langeveldt die kans gee om die skade met die bal aan te rig.
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.