Smith slaan vure dood
2011-12-30 07:54
Durban – Kort nadat sy span ’n vernederende nederlaag met ’n yslike 208 lopies gely het in die tweede toets hier teen Sri Lanka, moes die Suid-Afrikaanse krieketkaptein, Graeme Smith, gisteraand vure doodslaan oor gerugte dat hy gedreig het om te bedank.
“Ek is bereid om die kaptein te wees vir solank as die afrigter en die spanbestuur wil hê ek moet aangaan. Daar sal altyd vrae gevra word as dinge gebeur soos wat hier gebeur het (die nederlaag). Ek is egter verbind tot die rol van kaptein vir solank diegene in beheer my wil hê,” het Smith gesê.
Sri Lanka het vir die eerste keer ’n toets op Suid-Afrikaanse bodem gewen nadat die Proteas se toporde-kolwers vir die tweede keer in die toets lelik kleigetrap het. Die Suid-Afrikaners is ’n teiken van 450 gestel, maar is vir net 241 uitgeboul. Sri Lanka het dus met ’n allemintige 208 lopies gewen.
Dit kon nog erger gewees het as dit nie vir die uitstekende vennootskap van 99 om die agtste paaltjie tussen AB de Villiers en Dale Steyn was nie.
Die sosiale netwerk Twitter het behoorlik gegons oor dié gerug, terwyl die Suid-Afrikaanse kolwers soos ’n lendelam strandstoel die gees gegee het in hul tweede beurt en slegs 241 gekry het.
Die gerug is blykbaar deur ’n moedswillige kommentator op Twitter geplaas. Die rede sou wees dat Smith glad nie gelukkig is dat daar sprake is dat Mark Boucher as paaltjiewagter deur Thami Tsolekile vervang gaan word nie.
Die druk is ongetwyfeld besig om op te bou op Smith.
“Ons almal voel die pyn van hierdie nederlaag. Ek kan eerlik nie hier sit en vir julle ’n antwoord gee oor presies wat verkeerd gegaan het nie.
“Ek het gevoel ons was goed voorbereid en reg vir die toets. Ons is egter uit die staanspoor oorskadu deur ’n veel beter span, en dit is die realiteit van die situasie.
“Die windbukse is oorgehaal vir ons en die skote gaan na ons rigting toe kom,” het hy gesê.
Die derde en beslissende toets begin Dinsdag op Nuweland.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24