Smith sal speel in Twintig20
2010-03-19 12:20
Johannesburg - Krieket SA het gesê die Protea-kaptein Graeme Smith sal betyds fiks wees om aan vanjaar se Twintig20-Wêreldtoernooi deel te neem, wat op 2 Mei in die Wes-Indiese eilande afskop.
Smith sal binne vier weke weer fiks wees om die leisels by die Proteas te vat.
Dokters het x-straalfoto's geneem en gevind dat dit nie vir Smith nodig sal wees om 'n operasie aan sy gebreekte vinger te ondergaan nie, het Krieket SA Donderdagaand in ‘n verklaring gesê.
Smith het die middelvinger van sy regterhand gebreek toe hy ’n moeilike vangskoot benut het om Virender Sehwag in ’n Indiese Premierliga-wedstryd uit te haal.
Die Proteas se spanbestuurder, Mohammed Moosajee het gesê die Protea-kaptein sal volgende Dinsdag weer x-straalfoto's laat neem om sy vordering dop te hou.
- Sapa