Smith breek droogte
2012-01-21 07:34
Kimberley – Die uitjouery van die vorige wedstryd is met ’n luide applous vervang toe Graeme Smith Vrydag in die vierde eendagwedstryd teen Sri Lanka van die krieketveld af gestap het.
Die Suid-Afrikaanse kolwer het – voor bewolkte toestande die versengende hitte hier gebreek het – met 69 van 68 balle waarin hy algaande met groter selfvertroue gekolf het, ook sy lopiedroogte van die laaste tyd gebreek.
Die nuwe kaptein van die Proteas, AB de Villiers (96, 76b), was ook skitterend op dreef.
Die Proteas het met hul 299/7 verbeter op hul 289/5 op dié veld teen Nieu-Seeland, maar die rekord op die Diamant-ovaal (300/6 – Pakistan teen Sri Lanka, 1997-’98) net misgeloop.
Smith sou ook bitter graag wou voortgaan om ’n honderdtal aan te teken nadat hy die laaste tyd kwaai onder kritiek deurgeloop het.
Hy is nou in 36 kolfbeurte steeds sonder ’n honderdtal, maar sy selfvertroue blyk terug te wees.
De Villiers het vandeesweek met die stortvloed kritiek gesê hulle staan honderd persent agter die sukkelende Smith en dat ’n groot beurt straks om die draai vir hom is.
Smith was duidelik senuweeagtig aan die begin van sy kolfbeurt.
Hy het kriewelrig voor die kolfkampie rondgetrippel. Die eerste aflewering na hom was ’n tipiese Smith-hou, bykant toe, vir twee lopies.
Hy was egter nie skrikkerig om die gevaarlike Lasith Malinga te trotseer nie.
Hy het met die laaste aflewering van die tweede boulbeurt deurgeskarrel, reg vir Malinga.
Dit was ironies dat die einste slingerman wat vooraf in die reeks twee keer sy paaltjie gekry het, Smith met twee swak balle aan die bykant toegelaat het om twee agtereenvolgende viere te moker.
Smith se senuwees het duidelik gekalmeer.
Hy het oudergewoonte baie lopies aan die bykant versamel.
Hy het ook gou aangesteek by Alviro Petersen (37), wat dit ’n paar keer uit sy kolfkampie gewaag het.
Die aanvangskolwers het 84 om die eerste paaltjie van 80 balle gemoker.
Smith het in die 15de beurt met ’n enkellopie met die 45ste aflewering na hom sy vyftigtal behaal.
Smith sal straks vies wees vir homself oor die hou waarmee hy sy paaltjie in die 24ste beurt prysgegee het. Malinga (1/57) het weer sy paaltjie gekry.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- Die Burger