Smith: Proteas gebruik groot oomblikke
2013-02-13 17:47
Kaapstad – Een van die sleutelfaktore in die Proteas se onlangse sukses is hul manier om munt uit te slaan uit die sogenaamde groot oomblikke, het die kaptein Graeme Smith Woensdag in Kaapstad gesê.
“Hierdie span het regtig goed geword in hul manier om die groot oomblikke raak te sien, wat ‘n groot invloed op die wedstryd het,” het Smith gesê ‘n dag voor die tweede toets teen Pakistan op Nuweland sal plaasvind.
Terwyl baie van die toetsspan se sukses toegeskryf word aan die Proteas se gevaarlike boulaanval, het Smith gesê die kolwers speel ook 'n groot rol in hul oorwinnings.
Daar is altyd druk vir die kolwers om ‘n platform te skep, het Smith gesê en bygevoeg dat die Proteas se top-orde die beste in die wêreld is.
“Ons het al regoor die wêreld presteer, in baie verskillende toestande.”
“Toetse is verskriklik om in te kolf, veral in Suid-Afrikaanse toestande, en jy moet bereid wees om hard te werk om die wedstryd weg van jou teenstanders af te neem.”
Die Proteas het in die eerste toets vir Pakistan met 211 lopies geklop en loop tans 1-0 voor in die reeks van drie toetse.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA