Smith: 'Niks is vanselfsprekend'
2011-11-16 21:54
Johannesburg – Graeme Smith, kaptein van die Proteas, sê sy span sal niks as vanselfsprekend beskou in die tweede toets teen Australië nie.
Suid-Afrika is met 1-0 voor in die reeks van twee toetse ná ‘n oorwinning met agt paaltjies in Kaapstad verlede week. Die tweede toets begin Donderdag in Johannesburg.
“Die Australiërs het genoeg spelers met ervaring om aan te beweeg en ons weet dit is ‘n vars wedstryd en ‘n vars begin,” het Smith Woensdag gesê.
Die Australiërs is vir ‘n haas ongelooflike 47 lopies uitgeboul in hul tweede beurt op Nuweland – hul swakste totaal in meer as ‘n honderd jaar – soos die Proteas teruggeveg het om ‘n merkwaardige oorwinning te behaal.
“Ons moet nou daarop fokus om goed te begin en seker te maak dat ons weer daardie reg om te wen, verdien,” het Smith gesê.
“Die Australiërs sal hard na ons toe terugkom omdat dit is hoe hulle hul krieket speel. Dit is wat dit so ‘n opwindende reeks maak.
“Ons het gereflekteer op wat ons goed gedoen het in die eerste toets en ons moet nou voortbou daarop,” het Smith gesê.
“Ons krieket het van dag een af verbeter, veral uit ‘n bouler se perspektief, en ons was veel meer akkuraat en bestendig op dag twee en kon dus veel meer druk skep.
“As ons dit weer kan doen, sal ons vir onsself die beste kans gee.”
Die Proteas sal waarskynlik weer met drie snelboulers en ‘n draaibouler in hul boulaanval die veld betree.
“Gegewe die toestande en die hitte, glo ek die draaibouler sal ‘n rol hê om te vervul,” het smith gesê.
Die Proteas het Maandag en Dinsdag intensiewe oefensessies gehad en sal nie oorgerus wees in dié toets nie.
“Niks is vanselfsprekend nie, aangesien dit ons tweede toets in sewe of agt maande is.
“Ons is regtig gemotiveer om goed te vertoon en ons het baie respek vir die Australiese spelers, so ons sal beslis nie ons voet van die pedaal af haal nie.”
‘n Reeksoorwinning in ‘n tuisreeks teen Australië sal die eerste sedert 1970 vir Suid-Afrika wees.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA