Sehwag in SA boulers se visier
2010-02-05 11:23
Altus Momberg
Nagpur - Suid-Afrika se boulaanval het twee jaar gelede in die eerste kriekettoets in Chennai sy rieme lelik styfgeloop teen Virender Sehwag van Indië.
Dié aanvangskolwer het in bloedige hitte op ’n mak blad 319 lopies van net 304 balle gemoker.
Dale Steyn het gister gesê hulle is dié keer reg vir die mokerman en weet hoe om die swak plekke in sy mondering uit te buit.
“Dit is beslis ’n uitdaging. Hy het in Chennai gewys dat hy op mak kolfblaaie kan baljaar.
“Ons het egter later op daardie toer gewys dat as jy die bal op die regte plek teen hom boul hy nie veel sukses behaal nie,” sê Steyn.
Dié blitsbouler is die leier van die Suid-Afrikaanse aanval en sy vertoning in die eerste toets, wat môreoggend (om 06:00 SA tyd) hier begin, sal in ’n groot mate die grondslag vir die res van die boulaanval lê.
Morné Morkel, Steyn se aanvangsmaat, het gesê: “Ek gaan nie ons spanpraatjies verklap nie, maar ons het beslis ’n plan met hom (Sehwag).”
Die Proteas sal vanoggend finaal oor die samestelling van hul boulaanval besluit. Hulle moet besluit of hulle die Indiërs met drie snelboulers en een draaier óf twee snelboulers en twee draaiers wil aandurf. Indien net een draaibouler speel, moet die keurders besluit watter een van Paul Harris of Johan Botha die regmerkie gaan kry.
Botha was middel-Januarie nie deel van die Proteas se toetsplanne nie en die oud-Pakistani Imran Tahir is vir die laaste toets teen Engeland ingesluit.
Dit was slegs toe dié speler nie die nodige dokumentasie gehad het nie dat Botha vir die toer na Indië ingesluit is.
“Ja, dis verbasend hoe vinnig sake verander het. Dit gaan ’n groot uitdaging wees as ek ingesluit word. Indiese kolwers is uitstekende spelers van draaiboulwerk en sal beslis die draaier probeer aanvat,” sê Botha.
- Die Burger