SA vestig hoop op Alviro
2012-01-03 07:45
Kaapstad – Alviro Petersen moenie net vandag sy toetsloopbaan weer op koers kry nie, maar sommer reeds met die intrapslag ook standvastigheid aan ’n brose Proteas-kolflys verleen.
Graeme Smith, die Suid-Afrikaanse kaptein, het Maandag bevestig dat Petersen sy aanvangsmaat sal wees wanneer die derde en beslissende kriekettoets teen Sri Lanka hier op Nuweland begin.
Die reeks is gelykop (1-1) nadat Smith-hulle verlede week in Durban met 208 lopies afgeransel is ná twee powere kolfvertonings.
Petersen se insluiting is ten koste van die Proteas se se sukkelende middelorde-kolwer Ashwell Prince, wat tellings van net 11 en 7 kon behaal, en beteken dat Jacques Rudolph in die Moederstad op nommer ses sal uitstap.
Die 31-jarige Lions-kaptein (Petersen) het sy plek in die beginspan voorverlede maand aan Rudolph afgestaan, maar het nou reeds 556 lopies in die plaaslike SuperSport-reeks vir die Johannesburgers opgestapel.
Terselfdertyd het Rudolph in vier toetse nie oortuig as aanvangskolwer nie en kon hy net 159 lopies in sewe beurte – teen ’n beskeie gemiddelde van 22.71 – aanteken.
Smith het ook gesê die jong sneltrein Marchant de Lange sal plek maak vir Vernon Philander, wat herstel het van die kniebesering wat hom uit die Kingsmead-stryd gedwing het.
De Lange het agt paaltjies platgetrek in dié kragmeting, maar Philander se beheer (waarmee hy 24 slagoffers in net drie toetse dié seisoen geëis het) is ’n móét vir die tuisspan – sou hy op Nuweland sy eerste reekssege in sy agterplaas in meer as drie jaar wil beklink.
Petersen se taak sal verder bemoeilik word deur die feit dat nie een van sy kolfvennote tans op stryk is nie.
Terwyl die lopies steeds nie vloei van Smith se kolf nie, is Hashim Amla, die indrukwekkendste van die Suid-Afrikaanse kolwers op Kingsmead, nie naastenby so bestendig as wat hy die afgelope anderhalfjaar was nie.
Jacques Kallis lyk boonop ook na ’n skadu van die speler wat daarvoor bekend geword het dat hy meer waarde aan sy paaltjie heg as enige ander kolwer.
Suid-Afrika se kolfkoning moes al dikwels deurloop onder diegene wat meen hy is “oorversigtig” en teken sy lopies te stadig aan.
Maar voor die Durban-toets, waar hy twee nulletjies aangeteken het, het dit begin lyk of hy soos ’n wafferse Lance Klusener wil kolf.
Nóg slegte nuus vir Smith-hulle is dat die Nuweland-kolfblad straks veel meer hulp aan die boulers sal verleen as die een in Durban – veral ná gister se reën.
Skeidsregters: Rod Tucker (Aus) en Richard Kettleborough (Eng).
TV-skeidsregter: Steve Davies (Aus).
Sessies: 10:30-12:30; 13:10-15:10; 15:30-17:30.
TV: SS2, SHD2 en SABC 3.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24