SA verras met bouler
2010-06-11 08:01
Kaapstad - Lonwabo Tsotsobe was Donderdag ’n verrassende keuse toe die Proteas hul span vir die eerste kriekettoets teen die Wes-Indiese Eilande in Port of Spain bekend gemaak het.
Spel is egter vertraag met aanhoudende buie wat in Trinidad en Tobago uitgesak het. Suid-Afrika se kaptein, Graeme Smith, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
Toestande sal aanvanklik baie hulp aan die Windies se boulers verleen, maar die Suid-Afrikaners is lugtig vir ’n droë kolfblad wat waarskynlik vinnig gaan verweer en hulle wil derhalwe nie laaste op dié blad kolf nie.
Dis interessant dat die Windies twee spesialis-draaiers gaan inspan, wat wys dat hulle ook glo dat die blad gaan verkrummel.
Tsotsobe vervang die beseerde Wayne Parnell in die toetsspan as die derde naatbouler.
Daar is vooraf verwag dat die veelsydige speler van die Knights Ryan McLaren (voorheen die Diamond Eagles) in sy tweede toets sou speel, maar daar is besluit om een linkshandige swaaibouler van die Oos-Kaap met nog een te vervang.
Daar is ’n gevoel in die Suid-Afrikaners se geledere dat die Windies se kaptein en voorste kolwer, Chris Gayle, effe sukkel teen linkshandige boulers en Tsotsobe het straks om dié rede die regmerkie langs sy naam gekry.
Tsotsobe (26) het sy eendag-debuut vir Suid-Afrika verlede jaar in Perth gemaak en het reeds agt eendagwedstryde en twee t20-wedstryde vir sy land gespeel.
Intussen gaan Parnell eindelik in Augustus sy terugkeer tot mededingende krieket maak wanneer hy vir Suid-Afrika A op sy toer in Sri Lanka gaan speel. Dié jong veelsydige ster het ’n lies aan die begin van die Indiese Premierliga-reeks in Maart beseer en het sedertdien nog nie weer gespeel nie.
Hy is onttrek aan die Proteas se groepe vir die Twintig20-Wêreldtoernooi in die Wes-Indiese Eilande en ook Suid-Afrika se huidige toer in die Karibiese Eilande.
Andrew Hudson, die nuwe sameroeper van die Proteas se keurkomitee, het gesê dat Parnell soveel krieket moontlik agter die blad moet kry.
“Dit is ’n hele ruk dat Wayne nou beseer was en dis baie belangrik dat hy so gou moontlik weer begin speel,” het Hudson in ’n verklaring gesê.
Die nasionale keurders het meestal dieselfde spelers gekies wat sukses behaal het in die onlangse reekse in Bangladesj. Die gehalte van die opposisie sal egter baie sterker in Sri Lanka wees en hierdie toer behoort ’n goeie toets vir die diepte van Suid-Afrikaanse krieket te wees. Die keurders sal waarskynlik ook baie leer oor die individuele spelers.
Die enigste nuweling in die groep is die Lions se aanvangskolwer Stephen Cook. Hy is beloon vir ’n uitstekende seisoen in plaaslike krieket waartydens hy meer as 1?000 lopies in eersterangse krieket aangeteken het.
Drie Proteas – Tsotsobe, Alviro Petersen en Paul Harris – was ook op die toer in Bangladesj.
Dit was egter slegs as voorbereiding vir die Windies-reeks en hulle is nie in aanmerking geneem vir die Sri Lanka-toer nie. Rory Kleinveldt en Rusty Theron was deel van die Proteas-groep in die T20-Wêreldtoernooi en is nou weer deel van die SA A-groep.
Die Suid-Afrikaanse A-groepe:
Vierdag: Thami Tsolekile (k), Stephen Cook, Dean Elgar, Quinton Friend, Heino Kuhn, Ethy Mbhalati, Wayne Parnell, Vernon Philander, Rilee Rossouw, Rusty Theron, Thandi Tshabalala, Jonathan Vandiar, Stiaan van Zyl.
Eendag: Thami Tsolekile(k), Ryan Bailey, Dean Elgar, Colin Ingram, Rory Kleinveldt, Ethy Mbhalati, David Miller, Wayne Parnell, Vernon Philander, Rilee Rossouw, Rusty Theron, Thandi Tshabalala, Jonathan Vandiar, Morné van Wyk, Stiaan van Zyl.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24