SA verklaar ná Amla se dubbel-honderdtal
2010-02-07 14:41
Nagpur – Hashim Amla het sy eerste dubbel-honderdtal aangeteken om Suid-Afrika na ‘n imponerende telling van 558-6 te lei, waarop hulle op die tweede dag van die eerste toets teen Indië verklaar het.
Amla het 20 viere in sy onoorwonne kolfbeurt van 253 lopies aangeteken en het 108-lopies vir die vierde paaltjie saam met AB de Villiers (53) aangeteken, op ‘n stadige kolfblad by die Vidarbha Krieketvereniging-stadion in Nagpur.
Amla, 26, het die 200-lopies merk in styl oorgesteek, toe hy die deeltydse draaibouler Virender Sehwag (1-42) vir ‘n vier geslaan het.
De Villiers het sy 21ste vyftigtal behaal voordat hy deur Subramaniam Badrinath uitgevang is.
Amla, wat sy 42ste toetswedstryd speel, het vroeër ‘n rekord 340 lopies saam met Jacques Kallis (173) aangeteken vir die derde paaltjie.
Die tweede en finale toets tussen die wêreld se twee topspanne begin op 14 Februarie in Kolkata.
Suid-Afrika kan die nommer 1-posisie van Indië terugsteel as hulle die reeks wen. Indië moet net gelykop speel om in die top-posisie te bly.