SA trek gelyk; Windies druip
2010-06-17 09:40
Altus Momberg
Kaapstad – Suid-Afrika het met sy oorwinning in die eerste kriekettoets oor die Wes-Indiese Eilande nou dieselfde aantal toetse gewen as wat hy in sy geskiedenis verloor het.
Die Windies het egter die eerste keer meer toetse verloor as wat hulle gewen het.
Die span het 152 toetse gewen en 153 verloor.
Van die 351 toetse in Suid-Afrika se geskiedenis het hy nou 123 toetse gewen en 123 verloor.
Die Proteas begin die tweede toets in die reeks môre in Basseterre en sal hoop om weer ’n positiewe uitslag te kry.
Die lande wat nou ’n positiewe rekord het, is Australië (339-186), Engeland (315-259) en Pakistan (104-95).
Suid-Afrika het een keer vantevore ’n positiewe rekord gehad en dit was teen die einde van 2008 ná die Kersfeestoets in Melbourne toe hy ’n rekord van 119-118 gehad het.
Die drie nederlae teen die Aussies wat daarop gevolg het, het egter beteken dat die Proteas weer ’n negatiewe rekord gehad het.
Suid-Afrika het sedert eenheidswording ’n ommekeer in sy vertoningslys bewerkstellig.
Die SA span se rekord tot sy isolasie in 1970 was 38 oorwinnings en 77 nederlae. Sedert Suid-Afrika se terugkeer in 1992 het hy 84 toetse gewen en 46 verloor.