SA ‘sal ligloop vir trotse SL’
2012-01-14 07:35
Oos-Londen – Suid-Afrika se krieketspan is slaggereed vir Sri Lanka se verwagte terugvegpoging in die eendagreeks.
Die tweede wedstryd in die reeks van vyf word vandag hier op Buffalopark gespeel nadat Suid-Afrika die eerste wedstryd, Woensdag in die Paarl, met 258 lopies gewen het.
Sri Lanka se kaptein, Tillakaratne Dilshan, het gesê sy span sal ná die verpletterende nederlaag terugveg. Suid-Afrika is reg daarvoor, volgens die Proteas se sterkolwer en onderkaptein, Hashim Amla.
“As ons só verloor het, sou dit ons gemotiveer het om beter te speel. Sri Lanka is ’n trotse span en het in die toetsreeks gewys hoe hy kan terugveg.
“Ons sal Sri Lanka nie ligtelik opneem nie,” het Amla oor Suid-Afrika se benadering gesê.
Suid-Afrika het berug daarvoor geword dat hy ’n briljante vertoning met ’n floue kan opvolg. Dit is iets wat die span wil regstel.
Hoewel Sri Lanka ’n terugvegpoging belowe, het dit ook deurgeskemer dat hy nie juis nuwe planne het om Suid-Afrika hok te slaan nie.
In die Paarl was veral die wip wat Suid-Afrika se snelboulers uit die blad gehaal het, een te veel vir die besoekers.
In dié opsig hoop Sri Lanka dat Buffalopark se blad hom meer goedgesind sal wees.
Amla meen die toestande sal anders wees, maar glo Suid-Afrika sal kan aanpas.
“In die Paarl het die blad vinniger geraak. Die taktiek om met wipballe aan te val het gewerk, maar hier sal ons eers moet sien wat maak die blad. Dit maak nie saak watter soort blad dit is nie – ons boulers sal met dieselfde dringendheid aanval.”
Volgens Sri Lanka se afrigter, Geoff Marsh, is die Suid-Afrikaanse blaaie nie sy span se probleem nie.
“Ons speel teen ’n baie goeie span. Jy moet heeltyd op jou beste wees om druk op Suid-Afrika te hou.
“Ons kan dit doen. Die spelers oefen hard en die kolwers kan enige tyd met groot tellings vorendag kom.”
’n Kopsorg vir Sri Lanka is hoe om sy swaaibouler Lasith Malinga die beste te benut. In die Paarl was hy teen die einde van die kolfbeurt verwoestend, maar toe was die slag reeds deur Suid-Afrika se toporde gelewer.
Sri Lanka sal dalk waag om Malinga meer beurte vroeg te laat boul, maar dit kan hom kwesbaar laat teen Suid-Afrika se groot slaners laer in die orde.
Daar sal ná die wedstryd op ’n plaasvervanger in Suid-Afrika se groep vir Rory Kleinveldt besluit word. Kleinveldt sal weens ’n besering aan sy linkerbeen vir ses weke buite aksie wees.
Daar is ’n moontlikheid dat Amla dalk wedstryde later in die reeks kan misloop wanneer die eersteling van hom en sy vrou, Sunnayya, gebore word.
Suid-Afrika (uit):
Graeme Smith, Hashim Amla, Jacques Kallis, AB de Villiers (k), JP Duminy, Faf du Plessis, Albie Morkel, Johan Botha, Robin Peterson, Dale Steyn, Lonwabo Tsotsobe, Morné Morkel, Wayne Parnell.
Sri Lanka (uit):
Upul Tharanga, Tillakaratne Dilshan (k), Dinesh Chandimal, Kumar Sangakkara, Mahela Jayawardene, Angelo Matthews, Thisara Perera, Lasith Malinga, Rangana Herath, Nuwan Kalusekera, Kosala Kalusekera, Ajantha Mendis, Dhammika Prasad, Dilhara Fernando, Lahiru Thirimanne.
Skeidsregters
Billy Doctrove, Shaun George.
TV: Nigel Long.
Derde skeidsregter: Marais Erasmus.
Begintyd:
10:00.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24 op Twitter.
– Sport24