SA jonges loop hul vas teen Pakistan
2012-01-14 09:48
Kaapstad – Suid-Afrika se o.19-krieketspan het Vrydag hier sy rieme teen Pakistan styfgeloop toe hy met 54 lopies die knie voor sy Asiatiese teenstander gebuig het.
Dit was die derde wedstryd in die driehoekige reeks wat Zimbabwe insluit.
Suid-Afrika het Woensdag maklik klaargespeel met Zimbabwe toe hy met 9 paaltjies koning gekraai het.
Zimbabwe het Donderdag nog ’n reuse-loesing op die lyf geloop toe hy met 129 lopies teen Pakistan verloor het.
Suid-Afrika én Pakistan het dus gister se kragmeting met baie selfvertroue benader.
Pakistan het eerste gekolf nadat hy die loot verloor het en het ’n mededingende telling van 260/9 in sy 50 boulbeurte aangeteken.
Die tuisspan se boulers het aanvanklik klippe gekou en kon eers daarin slaag om die eerste paaltjie plat te trek nadat Pakistan se aanvangskolwers, Sami Aslam (112, 133 b, 11x4) en Babar Azam (52, 70 b), in ’n vennootskap van 143 gedeel het.
Hierna het die paaltjies gereeld geval met Faraz Ali en Usman Qadir wat ná goeie veldwerk uitgehardloop is.
Rabian Engelbrecht (3/38) was weer die tuisspan se voorste bouler nadat hy ook 3/33 teen Zimbabwe laat kantel het.
Hy is goed ondersteun deur Lesiba Ngoepe (3/47), maar die res van die boulers was redelik duur en het die besoekers toegelaat om teen meer as 5 lopies per boulbeurt te kolf.
Suid-Afrika se kolfbeurt het sleg begin toe sy kaptein, Quinton de Kock, vroeg reeds met die telling op 5 sy paaltjie vir slegs 4 lopies verloor het.
’n Goeie vennootskap van 110 lopies om die derde paaltjie, tussen Chad Bowes (63) en Diego Rosier (52), het die tuisspan se beurt gestabiliseer, maar hul paaltjies het ’n insinking ingelui waarvan die Groen-en-Goud-span nie kon herstel nie.
Suid-Afrika is eindelik vir 206 uitgehaal met Mohammad Nawaz (5/33) wat die meeste skade aangerig het.
Suid-Afrika speel Saterdag weer teen Zimbabwe.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24 op Twitter.
– Sport24