SA gaan nie wurggreep verslap
2011-11-20 07:02
Johannesburg – Suid-Afrika tokkel die kitaar ná die derde dag van die tweede kriekettoets hier op die Wanderers teen Australië – en is nie van plan om nou sy deuntjie te verander nie.
Al het Russell Domingo, die hulp-afrigter van die Suid-Afrikaners, Saterdagaand daarop gesinspeel dat sy span nog hierdie toets wil wen, maak hy dit ook duidelik dat die deur nie sommer vir die Aussies oopgemaak gaan word om terug te kom in hierdie toets nie.
Shane Watson, die Aussies se aanvangskolwer, sê hulle verwag glad nie dat die Suid-Afrikaners hulle ’n teiken sal stel wat enigins bereikbaar gaan wees nie.
“Daarom sal ons hulle môre moet uitboul, want Suid-Afrika speel sy krieket hard en gaan ons nie ’n kans gee omte wen en daarmee die reeks te red, indien ons dit nie verdien nie.
“Ons aanvaar dit ook so, want dit is niks anders as reg om dit te moet verdien om ’n toets te wen en nie sommer op ’n skinkbord aan jou geskenk te kry nie,” het Watson gesê.
Van die voorsprong van 199 lopies wat Suid-Afrika het, sê die aanvangskolwer Jacques Rudolph dat die plan sal wees om dit te rek na ten minste 350 en nader aan 400.
“Ons het nog glad nie eens gedink aan watter soort van teiken ons wil stel en wanneer ons sal wil verklaar indien dit daarby uitkom nie,” het Domingo gesê.
“Ons sal dinge môre (vandag) eers bal-vir-bal vat en nie sommer dom dinge doen net om ’n uitslag te probeer bewerkstellig nie. As ons ’n wortel voor die Aussies se neuse gaan hang, sal ons slim te werk moet gaan oor hoe dit gedoen sal word.”
Rudolph sê die eerste uur gaan belangrik wees om die Aussies uit die toets te kolf: “Indien Hash (Amla) en AB (de Villiers) kan voortkolf soos vandag (gister), sal ons dit baie moeilik vir Australië maak om terug te kom.
“Die tweede nuwe bal is 11 boulbeurte weg en AB-hulle sal daardie tyd wil gebruik om hulle weer in te speel.
“Hash het met verantwoordelikheid gekolf en toe hulle bymekaar gekom het, kon een of twee paaltjies wat gou geval het die Aussies terug in die toets gekry het. Daarom was dit belangrik dat hulle vasgebyt het.”
* Watson sê: “Ons het nodig gehad om Amla en AB ook te kry toe ons vroeg daardie drie paaltjies gevat het. Hulle het egter baie goed gekolf.
“Ons sal iets spesiaal moet doen om hierdie toets te wen.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24