Rory Kleinveldt ingesluit in Protea-groep
2012-10-10 17:59
Kaapstad – Rory Kleinveldt, wat nog nie toetskrieket vir die Proteas gespeel het nie, is ingesluit vir die Proteas se groep wat volgende maand ‘n toetsreeks in Australië sal speel.
Die veelsydige Kleinveldt het al twee T20-wedstryde vir die Proteas gespeel en sou vroeër vanjaar sy eendag-buiging teen Sri Lanka maak, maar is toe beseer.
Die Proteas gaan drie toetse teen Australië speel.
“Ons is nog vol selfvertroue oor ons toetsspan wat diens gedoen het teen Engeland en het net ons plaasvervangers bietjie versterk,” het Andrew Hudson, die Proteas se keurder, gesê.
“Ons voel sleg vir Lonwabo Tsotsobe wat moet uitmis, maar ons voel dat Rory se vermoë om die blad hard te tref vir ons ‘n goeie opsie gee. Hy skenk ook diepte aan die lae-orde.”
“Thami Tsolekile sal weer die plaasvervanger paaltjiewagter wees en sal in AB se plek speel indien hy seer kry.”
Die Proteas vertrek op 27 Oktober na Australië en enige spelers wat nog betrokke is by die T20 Kampioene-liga sal by die span aansluit sodra hul verpligtinge afgehandel is.
Só lyk die Proteas se groep:
Graeme Smith (Cape Cobras, kaptein Hashim Amla (Dolphins), AB de Villiers (Titans, paaltjiewagter), JP Duminy (Cape Cobras), Faf du Plessis (Titans), Imran Tahir ( Highveld Lions), Jacques Kallis (Cape Cobras), Rory Kleinveldt (Cape Cobras), Morné Morkel (Titans), Alviro Petersen (Highveld Lions), Robin Peterson (Cape Cobras), Vernon Philander (Cape Cobras), Jacques Rudolph (Titans), Dale Steyn (Cape Cobras), Thami Tsolekile (Highveld Lions).
– Sport24
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.