Proteas wil vandag nog lánk kolf
2012-01-04 07:27
Kaapstad – Suid-Afrika ís steeds ’n moeilike kalant in sy agterplaas; hy het nét soveel kolf- as bouldiepte – en die krieketwêreld het nog lánk nie die einde van Jacques Kallis gesien nie.
Dít was die driedubbele waarskuwing wat ’n veglustige Protea-span gister hier op Nuweland aan sy twyfelaars gerig het, deur ’n tamaai 347/3 op die eerste dag van die beslissende kriekettoets teen Sri Lanka op te stapel.
Danksy Kallis (159*) en Alviro Petersen (109) is dié reeks, wat die besoekers verlede week met hul skoksege in Durban met 1-1 gelykop gemaak het, nou weer Suid-Afrika s’n om nie te verloor nie.
Soos verwag, was Ashwell Prince en Marchant de Lange die enigste slagoffers van die tuisspan se loesing met 208 lopies op Kingsmead en was daar gister ’n welkome terugkeer vir Vernon Philander en Petersen, wat voorverlede maand vir Jacques Rudolph moes plek maak.
“Dit was teleurstellend om weggelaat te word, maar ek het bly glo dat ek weer ’n kans sou kry – mits ek genoeg lopies kon aanteken,” het Petersen gister gesê.
“Ek is ook dankbaar vir die vertroue wat die keurders in my gestel het om die kolfbeurt te begin, eerder as om op nommer ses te kolf.”
Hy en Kallis het saam 205 lopies om die derde paaltjie opgestapel nadat die vroeë verlies van Graeme Smith en Hashim Amla (albei 16) gedreig het om nóg ’n Protea-kolfbeurt te laat ontspoor en die besoekers se besluit te regverdig om eerste veldwerk te doen.
“Ons was effens verbaas oor dié besluit, want die kolfblad het baie droog gelyk en ons wou graag eerste daarvan gebruik maak,” het Petersen gesê.
“Jacques verdien egter al die lof, want toe hy ingekom het, was dinge nog baie gelykop en sy koel kop het ons deur ’n moeilike tydjie gekry.”
Petersen het ook gekap na diegene wat Kallis se kop geëis het ná sy twee nulletjies op Kingsmead.
“Om in jou 150ste toets te speel, is reeds merkwaardig, maar om dan boonop ’n groot honderdtal te moker, is besonders,” het hy bygevoeg.
“Dís hoe Suid-Afrika hom ken en dis ’n ongelooflike luukse om te kon kolf saam met iemand wat reeds meer as 12 000 toetslopies onder sy belt het.”
En Kallis se strooptog kan vandag voortduur, het Petersen gewaarsku.
“Ons het nog nie eens begin dink aan ’n telling waarmee ons tevrede sou wees nie en vir eers is die plan net om so lank te kolf as wat ons kan,” het hy gesê.
“Ons moet toesien dat ons genoeg lopies in ons eerste beurt kry, want die blad het reeds begin verweer.
“Ek glo dit sal net nóg moeiliker raak om daarop op te kolf.
“’n Mens kon sien hul boulers se gô was uit toe my en Jacques se vennootskap eers begin lyf kry het.
“Maar Sri Lanka is ’n trotse krieketland en ek glo hy sal ten minste probeer om terug in die prentjie te kom.”
As die wipplank-toetsreeks tussen Sri Lanka en Suid-Afrika sy span enigiets geleer het, is dit dat geen wedstryd beslis is voordat die laaste bal geboul is nie.
En juis daarom is die Sri Lankane nie in sak en as nie, selfs al het Kallis en Petersen die tuisspan gister in ’n haas onaanvegbare posisie geplaas ná net die eerste dag van die beslissende toets tussen dié lande.
“Dis baie teleurstellend om nou so erg in die moeilikheid te wees, veral ná dít wat ons in Durban reggekry het,” het Champaka Ramanayake, die Sri Lankaanse boulafrigter, gesê.
“Ons het egter baie swak geboul en boonop nie ons kanse benut nie.”
“Jacques (Kallis) is ’n speler van gehalte en het dit vandag (gister) net wéér gewys,” het Ramanayake gesê.
Intussen is Nuwan Kulasekara en Rangana Herath gister ingesluit in die Sri Lankaanse groep vir die eendagreeks teen die Proteas nadat hulle in November weggelaat is uit die besoekers se span vir die kitswedstryde teen Pakistan.
Die keurders het ook Lahiru Thirimanne herroep, 18 maande nadat hy sy laaste kitskans gekry het, terwyl Chamara Silva, Jeevan Mendis, Seekkuge Prasanna en Suraj Randiv gepos is.
Die Sri Lankaanse groep is:
Tillakaratne Dilshan (k), Angelo Mathews, Upul Tharanga, Kumar Sangakkara, Mahela Jayawardene, Dinesh Chandimal, Kosala Kulasekara, Thisara Perera, Lasith Malinga, Nuwan Kulasekara, Ajantha Mendis, Rangana Herath, Dhammika Prasad, Dilhara Fernando en Lahiru Thirimanne.
– Sport24
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter