Proteas vat reeks teen Pakistan
2010-11-08 20:26
Doebai – Suid-Afrika het Pakistan Maandag tydens hul vyfde eendagwedstryd by die Doebai-stadion met 57 lopies gewen.
Suid-Afrika het die kitsreeks 3-2 beklink.
Die veelsydige Jacques Kallis het 'n briljante 83 lopies aangeteken en drie paaltjies platgetrek om Suid-Afrika na 'n oortuigende sege te lei.
Mohammad Hafeez en Shahzaib Hasan het Pakistan 'n begin van 82 lopies besorg, maar Kallis het Pakistan se kolfbeurt ontspoor deur Hasan, Younis Khan en Mohammad Yousuf terug na die kleedkamer te stuur. Pakistan het toe van 82-0 tot 96-3 gesukkel.
Asof sy kolf- en boulwerk nie genoeg was nie, het Kallis ook 'n goeie vangskoot van Dale Steyn se aflewering benut om Hafeez in die 23ste boulbeurt uit te haal.
Telling:
Suid-Afrika 317-5 in 50 beurte
Pakistan 260 in 44.5 beurte
- Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sapa - AFP