Proteas stel teleur op Kingsmead
2010-12-29 14:01
Durban - Indië het verwoed teruggeveg op die vierde dag van spel en die tweede kriekettoets teen Suid-Afrika op Kingsmead in Durban met 87 lopies gewen. Die tuisspan kon slegs 215 lopies aanteken.
Dit bring die telling vir die reeks tussen dié twee lande op 1-1 te staan.
Die vooruitsig vir die Proteas het teen die einde van Dinsdag belowend gelyk, met die tuisspan wat slegs 192 lopies benodig het om die toets en die reeks te wen, met sewe paaltjies staande.
Die vierde dag het egter die een teleurstelling na die ander opgelewer.
Sree Sreesanth het die eerste en belangrikste slag van die dag geslaan toe hy Jacques Kallis pawiljoen toe gestuur het met 'n bal wat sy handskoen getref het en toe in Virender Sehwag se hande beland het.
Kallis kon slegs 17 lopies aanteken, en het saam met AB de Villiers 12 lopies by Dinsdag se telling van 111 lopies gevoeg voor hy uitgevang is.
Suid-Afrika se hoop het verder verflou toe twee been-voor-paaltjie-beslissings in slegs drie boulbeurte De Villiers (geboul deur Harbhajan Singh) en Mark Boucher (geboul deur Zaheer Khan) se einde beteken het. Dale Steyn het die eerste twee grenshoue van die dag geslaan voor hy vir 10 lopies uitgevang is.
Suid-Afrika het teen middagete te staan gekom op 182 vir die verlies van sewe paaltjies, 121 lopies kort van die teiken van 303, maar dit was teen daardie tyd reeds duidelik dat die tuisspan sou sukkel om terug te veg.
Paul Harris se paaltjie het in die 61ste boulbeurt geval vir sewe lopies, en Lonwabo Tsotsobe is uitgehardloop met geen lopies agter sy naam nie. Morné Morkel kon slegs 20 aanteken voor hy deur die paaltjiewagter uitgevang is.
Ashwell Prince het 'n telling van 39 (nie uit nie) aangeteken.
Suid-Afrika het die eerste toets in die reeks in Centurion met 'n kolfbeurt en 25 lopies gewen.
- Volg Nuus24Sport op Twitter.