Proteas se ware toets lê voor
2012-01-07 08:28
Nuweland – Die vonkelwyn-proppe kon Vrydag ná ’n lang wag geskiet word, maar dis drie komende wegreekse wat sal bepaal hóé goed Graeme Smith en die Suid-Afrikaanse krieketspan is.
Die Proteas het die derde kriekettoets (en reeks) teen Sri Lanka binne vier dae met 10 paaltjies beklink en hoewel ’n kitsreeks teen die eilandmanne eers afgehandel moet word, sal die fokus gou na die toere in Nieu-Seeland, Engeland en Australië verskuif.
Suid-Afrika moet dié moeilike sendings voltooi voor hy eers weer tuis in toetskrieket in aksie sal wees.
En Engeland (2008) sowel as Australië (2008-’09) soek wraak nadat die Proteas hul laaste reekse daar gewen het.
Smith, die Suid-Afrikaanse kaptein, glo die span se skoknederlaag in die tweede toets in Durban behoort tot die verlede en dat dinge nou weer goed op koers is.
“Alviro (Petersen) is uitstekend op dreef en hy het baie goed gekolf vir sy honderdtal. Dit was ook goed om te sien dat Jacques Rudolph goed vertoon het in sy eerste beurt op nommer 6.
“Dit is nie altyd maklik om in te kom (met die kolwers voor hom wat groot tellings opgestapel het) en gevra word om vinnig lopies te moker nie.”
Tog besef Smith ’n uitdagende jaar lê vir sy span voor.
“Dit is hoekom ons die momentum van dié reekssege (die eerste een tuis in 40 maande) moet oordra na die eendagreeks (teen Sri Lanka) en dan ná Nieu-Seeland.
“Dis moeilik om weg van die huis af te speel. Ons moet dus verseker dat elke speler in die span presies verstaan wat sy rol is en probeer dat die regte manne op die regte tyd op dreef is,” het die kaptein gesê.
Suid-Afrika het in 2004 laas in Nieu-Seeland getoer en die huidige boulaanval het bitter min ervaring van toestande daar.
Daardie reeks – toevallig die laaste waarin die huidige Proteas-afrigter, Gary Kirsten, as speler in aksie was, het met 1-1 gelykop geëindig.
“Dis altyd interessant om daar te speel. Die oefengeriewe is nie so goed soos in ’n top-krieketland nie. Jy speel meestal op rugbyvelde met kolfblaaie wat gelê word vir die toetse. Dis nie juis toestande waaraan ons gewoond is nie,” het hy bygevoeg.
En dan wag daar die reekse teen die ou vyande, Engeland en Australië.
Tillakaratne Dilshan, die Sri Lankaanse kaptein, het gesê hy verwag die Proteas se reeks teen Engeland later vanjaar gaan opwindend wees, omdat daar min tussen die spanne te kies is.
Volg Nuus24 op Twitter