Proteas sál nie weer struikel
2012-01-06 08:34
Nuweland – Dié keer sal die Suid-Afrikaanse krieketspan nie in die pylvak struikel nie.
Dít was Donderdag aand in Kaapstad die versekering van Vernon Philander, met die Proteas wat vandag op die drempel staan van ’n eerste toetsreekssege in hul agterplaas in meer as drie jaar.
Philander, wat op Nuweland sy terugkeer gemaak het ná die kniebesering wat hom uit die rampspoedige tweede toets in Durban gedwing het, was vol selfvertroue dat die tuisspan (anders as in die onlangse verlede) die uitklophou sál plant.
Die Suid-Afrikaners benodig net ses paaltjies om die eerste keer in ’n reeks op eie bodem te seëvier sedert hulle Bangladesj in Desember 2008 met 2-0 verslaan het.
Philander was wéér een van die tuisspan se groot boul-helde en het 4 van die 12 paaltjies wat gekantel het, platgetrek.
Teen uitskeityd was die Sri Lankane op 138/4 in hul opvolgbeurt, steeds 203 lopies agter.
Dít nadat hulle vir net 239 uitgeknikker is in hul eerste poging in antwoord op die Proteas se 580/4.
“Dié is beslis die moeilikste kolfblad, waarop ek tot nog toe in ’n toets geboul het, want daar is geen werklike vaart in nie,” het Philander (1/24) gesê.
“Ons het lank gewik en geweeg oor of ons hulle moet laat opvolg, maar ons het geglo dat ons hulle vir ’n tweede keer goedkoop kan uithaal – selfs op dié blad.”
Volgens hom wag daar vandag steeds heelwat harde werk op hom, Dale Steyn (0/18), Morné Morkel (1/29) en Imran Tahir (1/37) – veral met twee erkende kolwers én die paaltjiewagter, Dinesh Chandimal, steeds tot die toerspan se beskikking.
Thilan Samaraweera (19*) en Angelo Mathews (28*) sal hul vennootskap van 40 lopies in die Sri Lankane se beurt vanoggend hervat, met Chandimal – wat op Kingsmead twee vyftigtalle in sy eerste toets gemoker het – die volgende om in te stap.
“Ons is heel in ons skik met die feit dat ons 12 paaltjies kon plattrek en dis nie die eerste keer dat ons Sri Lanka sien tou opgooi nie,” het Philander gesê.
“As ons aanhou om te boul soos ons kan, sal ons hulle kafdraf.
“Sodra ons verby Chandimal kan kom, het hulle nie meer veel oor nie.”
Dié 26-jarige Kapenaar was ook vol lof vir Tahir, wat hier die beste boulvertoning van sy kort toetsloopbaan opgedis het.
“Imran het nie veel boulkans gekry in die reeks teen Australië nie, maar die laaste twee toetse kon hy wys wat in hom steek.
“Die beheer waarmee hy boul, maak dit boonop moontlik vir Graeme (Smith, die Suid-Afrikaanse kaptein) om die snelboulers in kort skofte in te span,” het hy gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24